Met ander woorde is ‘n slimsnaakse, energieke, warmhartige, vermaaklike, verbeeldingryke en oorspronklike nuwe eenvrouvertoning deur die multibekroonde aktrise, skrywer en regisseur, Lizz Meiring.

Lizz, wat vanjaar haar drie-en-dertigste jaar in die vermaaklikheidsbedryf vier, gaan die land plat toer, en as mens al drie-en-dertig jaar in die rare bedryf is, het jy baie om te sê. Gehore
kan dus uitsien na ’n splinternuwe, verrassende vertoning met die klem op top klas vermaak.

Met ander woorde is ’n versameling sketse, stories en vertellings uit die pen van die aweregse, eiesoortige Lizz Meiring wie met haar liefde vir woorde en woordspelings die woorde uiter wat ons soms lomperig kwytraak om ons eie en ander se menslikheid te verstaan. Daar’s komiese inhoud, meer ernstige temas en als tussenin, want soos Lizz altyd sê “is lag en huil, ironie, satire en patos mos maar ‘n mespunt fyn van mekaar”.

Lizz vertel in die stuk ook grepe uit haar eie lewe en loopbaan – die lastige ongemaklikhede van kunstenaar wees, en die triomfantlike ontsnapping van kreatiwiteit.

By die Boer restaurant teater in Durbanville op 28 Feb om 20:30
Kaartjies kos R130 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar