Mime la France

Die naam John Jacobs is dalk nie so welbekend in Suid-Afrika nie, maar in Parys, Frankryk, is hy reeds as die "le diblotin" (klein duiweltjie en manipuleerder) van die Franse mimiek beskryf. Hy is ´n gebore Suid-Afrikaner, die enigste Suid-Afrikaanse mimiekmeester in die Marcel Marceau – tradisie van die klassieke mimiek. Ongelukkig hou die Franse hom so besig in Parys, Frankryk dat Suid-Afrikaners nie altyd die geleentheid het om hierdie ongelooflike kuns en kunstenaar in aksie te sien nie. Goeie nuus is egter dat hy in September terug in Suid-Afrika sal wees om by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom op te tree en ook om ´n aantal mimiekslypskole in Suid-Afrika aan te bied.

Na ´n baie lang afwesigheid uit Suid-Afrika, het John verlede jaar by die KKNK in Oudtshoorn opgetree en het hy ook die KKNK se Kanna Prys, Die Herrie, verower vir die mees opspraakwekkendste produksie vir sy produksie, Mime la France. Met elke optrede in Oudtshoorn het hy ´n staande toejuiging gekry en gehore, resensente en die Kanna Paneel was dit eens dat daar meer van John Jacobs in Suid-Afrika gesien moet word. Sy produksie is ook deur die Feeskoerant, Krit, aangewys as een van die beste 10 produksies van 2002! In 2003 verower hy ook die KKNK se Kanna Prys vir die Beste Bydrae in Bewegingsteater.

Resensente was in vervoering oor John Jacobs en veral oor die klassieke mimiek wat nie so welbekend in Suid-Afrika is nie: "Mimiek-buksie verdien sy staande ovasie!" – Johan van Zyl: Die Burger "One of the most delicate performances was John Jacobs’ MIME LA FRANCE, in which he says more with his movements than many artists do with words." – Diane de Beer: The Star Tonight en Pretoria News. "Jacobs se mimiek laat alles om jou vervaag." – Stephanie Niewoudt: Beeld "Klein duiweltjie vind kleim in geheue" – Paul Bokooi: Die Burger En een van die feesgangers aan John na een van die shows: "Jy is briljant, maar jy is ´n emosionele rondfokker!"

"Die teater moet vermaak!" sê John. "Mense wil lag . hulle wil huil . hulle wil ontspan! Ons het klaar gewroeg in Suid-Afrika. Ons kunstenaars moet nou die voortou neem en gehore begin vermaak, want ons besef nie altyd hoe groot ons plig is om mense beter te laat voel nie. Onthou jy die hofnarre van die konings? As hierdie ouens nie hulle werk gedoen het nie, was daar oorlog tussen lande. En dit is die lekker van my kuns, die mimiek. Ek kan mense van enige nasionaliteit vermaak, want mimiek het nie ´n taal nodig om te kommunikeer nie."

John het in Distrik Ses groot geword en was deel van sy pa se Klopse. Hy ontvang ´n beurs van die Franse Konsulaat om aan die wêreldbekende Marcel Marceau Skool vir Mimiek in Parys te studeer. Hy behaal groot sukses onder Marceau. "Ek het partykeer gevoel ek word bietjie ingedoen, want ek kon nie al my meester se tyd vir myself kry nie. Ek het soveel tyd nodig gehad om alles van hom te kon leer. Toe hy egter sien hoe ernstig ek is en hoe hard ek werk, het hy my onder sy vlerk geneem en die ware tegnieke van die klassieke mimiekkuns geleer. Hy is ´n harde leermeester en hy het altyd vir my gesê: ‘John, jy is ´n goeie akrobaat en danser. Jy het baie talent, maar onthou jy is steeds bo alles ´n mimiekkunstenaar. Moet nooit die krag van die moment d´arret (pouse) vergeet nie. Die drama van die boodskap wat jy wil oordra, word vasgevang in daardie stil, beweginglose stiltes – gebruik dit!"

John sê hy sien vreeslik daarna uit om weer by Aardklop op te tree. "Mense in Suid-Afrika het nog ´n wanpersepsie van wat die ware klassieke mimiek behels – dit is beslis nie die ou wat sy gesig wit smeer en in ´n winkelsentrum doodstil staan en dan so nou en dan ´n stupid beweging maak nie. Nee, ware mimiek is seker die siel van die uitvoerende kunste. Dit is waarom my gehore hulle totaal aan die wonderlike kuns van die mimiek oorgee – as hulle lag, dan skater hulle en as hulle huil, sien jy trane vloei."

Hy sê ook dat die gehore hom baie hartlik in Oudtshoorn en Potchefstroom ontvang het. "Ek het dit nie verwag nie. Die gehore was so warm en dit het my hart as Suid-Afrikaner ook warm laat klop. Daar is maar net een land en dit is Suid-Afrika en ek sien vreeslik daarna uit om weer in Suid-Afrika en wel by Aardklop op te tree."

Lewer kommentaar

Leave a Reply