Oefen jou lagspiere vir Aardklop!

Van die gewildste produksies by vanjaar se Aardklop kunstefees is ‘n hele paar wat die lagspiere behoorlik gaan laat werk.

Hannes Muller is met sy meesterlike vertolking van die grotman besig om gehore landwyd te laat skaterlag. Te oordeel aan die kaartjieverkope vir Groet die grotman, is daar nog talle mense wat wil gaan kyk hoe Muller manlike en vroulike stereotipering op ‘n heel komiese wyse uitbeeld. Koos Kombuise se briljante vertaling van Rob Becker se oorspronklike Defending the Caveman, dra beslis by tot hierdie suksesverhaal. Wat is dan nou lekkerder as om vir jouself te lag?

Nog iemand wat die fyn kuns van selfspot bemeester het, is Marion Holm. In haar karakter as Sussie het Marion Holm die afgelope paar jaar diep in feesgangers se harte gekruip en gehore vermaak met insidente uit haar lewe. Met vanjaar se produksie, Sussie: Survivor (Kuilsrivier) kry die gehoor ‘n skreeusnaakse terugblik op grootword in die 70’s en 80’s. Hennie van Greunen se vlymskerp teks sorg vir skaterlag oomblikke.

Marion is ook te sien in nog een van die ander gewilde produksies. In Die vrou wat haar man gekook het, sorg Marion saam met Pedro Kruger en Ané Mostert vir groot pret. ‘n Man se middeljarekrisis kan hom soms in die kookwater laat beland, veral wanneer daar ‘n mooi, jong vrou opduik wat hom laat vergeet van sy boepie en bles. En wat dan met die arme Kennie (Pedro Kruger) gebeur, gaan jou laat lê soos jy lag.

Die komedie Binnelanders Buiteweste is ook baie gewild. Lizz Meiring het die opdrag gekry om ‘n komedie te skryf wat gebaseer is op ses karakters uit die sepie Binnelanders. Groot verwarring en konsternasie volg wanneer die ses ‘toevallig’ een naweek saam in ‘n hotel beland. Die hotel is nie verniet die Merry Mountain Inn nie want daar is immers geen beter medisyne as ‘n heerlike lagbui nie.

Een van die gewilde musikale produksies is Stef Bos se vertoning, Stef Bos. Die sjarmante Nederlandse sanger wat die afgelope paar jaar in België woon, voer jou mee na sy wêreld wanneer hy agter die kitaar en klavier inskuif. Gehore geniet sy humorsin, maar word net so diep geraak deur sy sterk lirieke. Dis nie aldag dat jy ‘n kunstenaar van Stef Bos se kaliber hier plaaslik kan hoor nie.

bydrae: Alita Vorster

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar