Oom Wanja herleef in Afrikaans

Die Russiese dramaturg Anton Tsjechov is vanjaar 100 jaar oorlede en ter herdenking daarvan word Oom Wanja by vanjaar se KKNK opgevoer. Dit is ook tot dusver een van die fees se topverkopers en dis die eerste keer dat ´n volledige Tsjechov produksie by die fees te sien is.

Karen Meiring, besturende direkteur van die KKNK, meen dit is ´n reuse prestasie vir die KKNK om ´n klassieke toneelstuk van hierdie omvang aan te bied. “Ek is verheug daaroor dat dit so uitstekend presteer, veral as mens in aanmerking neem dat dit ´n toneelstuk van twee en ´n half uur is.”

So hoekom sal mense in hierdie dag en dae na Tsjechov gaan kyk?

“Tsjechov kon nou net sowel ´n Afrikaanse dramaturg gewees het. Die fisiese en psigiese landskap van die Afrikaanssprekendes en die Russe stem baie ooreen.” Aan die woord is akteur André Stolz, medevervaardiger en assistent-regisseur van die produksie.

“Tsjechov het mense se lewens in vier bedrywe vasgevang. Hy kry dit reg om die essensie van die menslike kondisie weer te gee. Mense ervaar of dink dikwels aan Tsjechov as hierdie vervelige, uitgerekte dramaturg, maar hy is eintlik ongelooflik snaaks. Die optredes en gedagteprosesse van die karakters kan baie komies wees.”

Dit is ook by André wat die idee ontstaan het om Oom Wanja vanjaar op te voer.

“Ek het al baie jare gelede besluit ek gaan 2004 opsy sit vir Tsjechov. Dit het omtrent ´n obsessie geword en ek het hom behoorlik bestudeer en het besluit 2004 is ´n belangrike jaar om sy werk te herdenk. En dit is nou weer tyd om ´n nuwe, jong gehoor blootstelling te gee aan Tsjechov.”

“My oorspronklike idee was om Die Kersietuin op te voer, maar die rolverdeling daarvoor is baie groot, en finansies speel natuurlik ´n groot rol.”

Die KKNK het daarna sy aansoek aanvaar om Oom Wanja by die fees te open en later het die Baxter-teater ook aan boord gekom.

Maar wat is die waarde daarvan vir ´n moderne (Afrikaanse) gehoor. “Al sy goed is nog steeds baie relevant. Dit roer mense op ´n baie onbewustelike manier. Daar is nie ooglopend baie drama nie, maar binne roer dit jou,” sê André.

Janice Honeyman, wat onlangs met ´n Naledi-teaterprys as beste regisseur bekroon is, behartig die spelleiding. “Die menseverhoudings in Tsjechov is fantasties. Hy het dit reggekry om die kwesbaarheid van mense weer te gee en te wys hoe fragiel hulle is. Oom Wanja is ´n menslike drama oor hoe mense aansluiting vind by mekaar en hoe hulle reageer op die lewe,” sê sy.

Dit is die eerste keer dat sy die regie van ´n Tsjechov doen en is baie opgewonde daaroor. “Dit is ´n groot uitdaging, maar ek dink ek is nou oud en ervare genoeg en ek weet hoe om dit aan te durf.”

Beide André en Janice stem saam dat hulle dink Tsjechov werk beter in Afrikaans as in Engels. “Die Afrikaanse psige is nader aan die Russiese psige, en daarom is dit makliker vir Afrikaanse akteurs om dit te speel. Die Afrikaanse taalritme is ook nader aan die Russies,” sê André.

Janice sê vanjaar se produksie “speel af in die tydperk waarin dit veronderstel is om af te speel, maar met ´n moderne uitkyk daarop”. “Dit sal sekerlik lyk soos ´n klassieke stuk, maar die sielkunde van die karakters is baie modern.”

Die formidabele rolverdeling sluit in Marius Weyers, Anna-Mart van der Merwe, Louis van Niekerk, Mary Dreyer, Sandra Kotze en James Borthwick.

“Absolute, vreesaanjaende opwinding,” is hoe Anna-Mart haar gevoel oor die produksie beskryf. “Dit is eerstens ´n voorreg om in ´n Tsjechov te speel en dan ook saam met sulke ervare akteurs.”

“As ek aan Tsjechov dink, sien ek altyd lywe wat by ´n venster staan en tuur na buite. Hulle wil nie daar wees nie. Die mens wat altyd dink die gras is groener aan die anderkant en wat altyd ander vir hul huidige situasie blameer, maar” voeg sy by “die lewe gebeur eintlik daar waar jy nou is en wat jy nou met jou lewe doen, is belangrik.”

Die manier waarop Tsjechov sy karakters ondersoek is vir haar fassinerend. “Die interne, emosionele reis waarop sy karakters gaan, is ook wat hom amazing maak. Vir my as speler is dit great om tot daardie aspek toegang te kry en dit te ervaar.”

André is self ´n ervare Tsjechov akteur en stem saam: “Dit is elke akteur se droom om in ´n Tsjechov te speel. Die innerlike lewe van die karakters, is kompleks en hulle het baie dimensies. Dit is lekker om te delf in die karakters. Dit is ook baie roerend om daarna te gaan kyk. Dit voel altyd asof die drama vir my (as lid van die gehoor) geskryf is. Ek kan nog steeds daarmee identifiseer.”

Oom Wanja is wel reeds in 1896-1897 geskryf, maar behalwe vir die universele karakters wat Tsjechov geskep het, is die kwessies wat hy aanraak ook baie relevant.

“Daar is een karakter in Oom Wanja vir wie natuurbewaring baie belangrik is. Hy het ´n groot voorliefde vir die natuur. Meer as 100 jaar gelede het Tsjechov al gesê: Mense het nie nou die insig om te bewaar en op te pas nie. Ons moet nou na ons aarde kyk. Niks het egter verander nie en mense verwoes nog steeds die aarde,” sê André.

Tsjechov is in 1992 laas in Afrikaans opgevoer, toe Drie Susters met Ilse van Hemert as regisseur op die planke gebring is. Die laaste keer wat Oom Wanja in Afrikaans opgevoer is, was in 1968 in die Breytenbach-teater in Pretoria deur Truk.

André het nog baie planne om Tsjechov vanjaar verder te herdenk. “Ek wil die Actors Centre in Johannesburg gebruik en dalk van sy korter stukke opvoer. Sommige van sy kortverhale kan net sowel in ´n sjebien in Soweto afspeel as iewerste op Gatserand. Mense is so universeel. Daar is nie beperkings nie, dis oop vir interpretasie.”

skrywer: Jomarie Dick

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: Hedda Gabler Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply