Die dramadepartement van die Universiteit van Rhodes is by die Absa KKNK op Oudtshoorn met die 2009-Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (SPAT) bekroon. Hul produksie van Die Bannelinge het feitlik skoonskip gemaak met die belangrikste pryse.
Dit is die eerste keer dat Rhodes dié prys wen – met hul eerste probeerslag. Hulle steek daarmee ‘n stewige R100 000 in die sak op voorwaarde dat die wenproduksie deur die loop van die jaar by nog twee ander kunstefeeste ook opgevoer word.
Die wenstuk, uit die pen van Bauke Snyman, is onder spelleiding van Heike Gehring opgevoer.
Die individuele pryse wat elkeen R20 000 werd is, is toegeken aan
· Shaun Acker as “Mnr O” in Die Bannelinge (goue toekenning vir beste akteur),
· Bauke Snyman (beste dramaturg), en
· Heike Gehring (beste regisseur).
Elanza Swart (Universiteit Stellenbosch) in Die Wagkamer het met die silwerakteurstoekenning van R10 000 weggestap.
Die beoordelaars, Ilse van Hemert, Elize Cawood, Margot Luyt, Hennie van Greunen en Mike van Graan, het ook ‘n voortreflikheidsertifikaat vir Ontwerp aan die Universiteit van Rhodes toegeken.
Afgesien van Die Bannelinge, was die finaliste wat om die pryse ter waarde van altesame R270 000 meegeding het
· Die Wagkamer, deur Frans Josias Hamman (Universiteit Stellenbosch) met Wilhelm Conradie as spelleier; en
· Spokie Snygans maak sy buiging, deur Jeanne Goosen (Universiteit van die Vrystaat), wat deur Gerben Kamper afgerig word.
SPAT was vir die sesde keer op die spel. Die Vrystaters het in 2005, 2007 en 2008 koning gekraai het, terwyl. Stellenbosch het die toekenning in 2004 en 2006 gewen het. Rhodes was vir die eerste keer ‘n finalis.
Skryf nou in vir 2010
En nou kan dramaturge en voornemende toneelskrywers vir 2010 se kompetisie naderstaan. Die finaliste vir SPAT word gekies op grond van oorspronklike nuwe Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by tersiêre instellings in Suid-Afrika voorgelê word en dan uiteindelik deur die dramadepartemente oorweeg en vir beoordeling ingeskryf word. Die sluitingsdatum om tekste aan dramadepartemente voor te lê, is 30 Junie 2009.
Om die standaard van die tekste en die produksies in die toekoms te verbeter, sal ‘n ekstra geleentheid aan die dramaturge van finalistekste verleen word om dit af te rond, voor die finale keuring gedoen word.
Die finaliste vir 2010 sal teen November 2009 aangekondig word en hul produksies (hoogstens vier) sal dan met pryse van R25 000 elk ingestudeer word vir finale beoordeling by Absa KKNK 2010.
Vir nadere besonderhede skakel Martie de Lange 021/947-5174 of besoek www.sanlam.co.za op die internet (daar is ‘n skakel na Sanlamprys vir Afrikaanse Teater onder Kompetisies op die tuisblad).