Die skrywer en dramaturg Ryk Hattingh is vanoggend, 10 Oktober 2017, oorlede aan ’n hartaanval.
Ryk Hattingh is as Andrew Ryk Hitchcock Hattingh op 26 Julie 1957 in Benoni gebore. Hy was die skrywer van Die tonnel, Markus vermoed ’n verhaal, Ignatius Brand, Witskrif en Huilboek. Huilboek het onlangs die kykNET-Rapport-prys vir Afrikaanse romans gewen.
In 1988 het Hattingh se toneelstuk Sing jy van bomme groot opslae gemaak in Johannesburg en Pretoria met die destydse sensuurraad wat ingegryp het om ’n naaktoneel te sensor. Die stuk is later is met vyf Vitas bekroon. Ook sy Opdrag: Ingrid Jonker (in samewerking met Jana Cilliers) het wyd deur die land getoer en is met verskeie pryse bekroon.
Hy maak ook destyds naam as joernalis by die Vrye Weekblad en Die Suid-Afrikaan. In 1995 is hy aangestel as die redakteur van Loslyf, die eerste Afrikaanse prikkeltydskrif.
In 1997 emigreer hy na Nieu-Seeland waar hy die afgelope twintig jaar skoene reggemaak en duplikaatsleutels vervaardig het.
Hattingh laat sy vrou en drie kinders agter.
(Onlangs: Ryk Hattingh lees voor uit Huilboek)