As gekyk word na die vol, interessante en uiteenlopende program wat die Vryfees-span vir 9 tot 14 Julie saamgestel het, gaan feesgangers vanjaar se slagspreuk (hartelus!) na hartelus kan uitleef, want daar is iets – en nog meer – vir elke smaak.
Vanjaar word alle opvoerings en konserte op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat aangebied en toegang tot die feesterrein en kunstemark bly gratis.
Die kunstespyskaart bied vanjaar weer toneel van alle soorte: kwaai drama, klugtige komedie, alternatiewe andersheid; ’n eerste met ’n simfonieorkes; prikkelpoppies vir die manne; fyn musisering; opskopkonserte met onder andere Steve Hofmeyr; gewilde gunsteling-kunstenaars; maar ook vars, nuwe gesigte.
Ná ’n lang afwesigheid is daar weer dans op die fees en sommer ’n grote waarin jy enigiets van ballet tot gumboot-danse kan verwag: Die titel is nie verniet Spectacular Spectacular nie.
Onder die 12 kabaret-, musiekteater en klassieke musiek-aanbiedings is ’n Kabaretmania wat gehore gaan bekend stel aan die muse met die mes: kabaret! Die Bloemfonteinse stadsorkes gaan groot klank verleen aan die musiek van Andrew Lloyd Webber; en vir die manne is daar ware burlesk-poppies wat sing en dans in Big Top Burlesque.
Luister jy fyner is daar Zorada Temmingh se orrelspel, André van Daalen se hobo, Magdalene Minnaar en Zanne Stapelberg se sopraanstemme en Charl du Plessis se Bach-jazz. Heeltemal anders – in die trant van musikale, pittige Victor Borge – skerts die Australiese pianis David Scheel.
Die kontemporêre musiekprogram bied nuutjies aan soos Chris Chameleon saam met die Bloemfonteinse Kinderkoor, Fyngeslyp met Jannie Moolman waarin Bloemfonteinse top-kunstenaars onder hande geneem is vir ’n konsert; die feestreffer en gala-openingskonsert Liedjie vir jou met onder andere Laurika Rauch, die 78-jarige Dorothy Masuka en Karen Zoid; Steve Hofmeyr kom vier 25 jaar op die verhoog in die Callie Human-sentrum; en Dana Snyman kom saam met musiek stories vertel. Bekendes wat weer terug is, is Mathys Roets, Lize Beekman, Jak de Priester, Kurt Darren, Romanz en Nianell saam, Ses Snare, Sarah Theron, Radio Kalahari Orkes, Koos Kombuis en Piet Botha.
Toneel het vanjaar meer Engelse werk – onder meer ’n nuwe stuk deur Mike van Graan. Gaan kyk gerus Gerben Kamper se opvoering van die Adam Small-stuk Kanna hy kò hystoe met June von Merch.
’n Ander nuwigheid is Kinders van stilte, ’n vertaling van die gewilde Children of a lesser god, waarin Vicki Fourie, ’n Mej. Dowe Suid-Afrika, saam met Zane Meas en Antoinette Louw speel.
Wil jy graag sien hoe Suid-Afrikaanse toneelstukke vergelyk met dié van oorsee? Kyk uit vir Die Leo’s, Die monster in die gang en Die melktrein stop nie meer hier nie.
En kies dan sommer ook The three little pigs, ’n Suid-Afrikaanse stuk met tuisspelers wat Bloemfontein aandoen op sy “wêreldtoer” van Australië na Europa.
Bekende name op die verhoog sluit in Elsabe Daneel, Sandra Prinsloo, Tobie Cronjé, Antoinette Kellermann, Rob van Vuuren, Johann Nel, Marion Holm, Gys de Villiers en die egpare Wilson Dunster en Elize Cawood en Johan en Lida Botha. Dis waarskynlik die jong rebelle wat gaan ontstel – maar wat is ’n fees nou sonder ’n skok? Wees dus maar bedag op Woza Andries?, VREK en Tjop en dop.
Voeg hierby die gebruiklike kindertoneel, die Reza de Wet-toneelfees vir tieners, al die lekker eetplekke en stalletjies met allerhande snuisterye en seldsame winskopies en Vryfees 2013 is daar net vir jou.
Vir ’n ware Suid-Afrikaanse ervaring kan daar nou uitgesien word na die Township Arts Experience op 6 Julie in Batho waar inheemse kuns, danse, musiek en interkulturele geregte aan die orde van die dag is. Die kunservaring is gekonsentreer in Makgothi-straat, dieselfde straat waarin die Mapikela-huis is waar die ANC gestig is.
• Benewens kaartjieverkooppunte by alle Moneymarket-toonbanke van Shoprite Checkers, die Loch Logan-waterfront en Mimosa Mall in Bloemfontein, het Computicket bevestig dat hulle van vandag af elke weekdag tussen 08:00 en 16:30 kaartjies by die Odeion sal verkoop.
Programboekies is teen R10 by alle verkooppunte en Volksblad se kantore beskikbaar.

Lewer kommentaar