Kieslys

Close


*/

15 April
2017
Verhale
617 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Arno, die Groenies, die boom en die buurman

deur Babs van der Merwe

Arno is steeds Pa Henk en Ma Karin se eie, beste woelwater. Hy is altyd besig, en sy verbeelding werk dikwels oortyd. Sy beste maatjie is sy hond Pula. Maar dan is daar nog Emmerkop, wat hy self gemaak het. Hy en Emmerkop was al in die ruimte, maak nie saak dat niemand hom wil glo nie.

Arno met Emmerkop onder sy arm, en Pula blaffend agterna, hardloop op en af van die hek na die motorhuis met ‘n bal wat hy skop so ver as hy kan. Nou en dan kom Pula eerste by die bal, dan staan hy trots en wag vir Arno om weer die bal te skop.

So speel hy tot ma Karin roep vir melk en koekies. Vandag kry Arno ook ‘n lemoen. Ma Karin wys hom hoe om die lemoen rond te rol totdat dit sag is. Sy maak vir hom ‘n gaatjie in die lemoen sodat hy later as hy weer dors is, die sap kan uitsuig. Arno sit die lemoen in ‘n mik van die groot boom by die hoek van die moterhuis. Arno is moeg van al die hardloop. Hy gaan sit op die grond onder die boom langs die swaai wat pa Jan van die ou buiteband gemaak het. Sy pa is mos die slimste en die beste pappa in die hele wêreld. Hy voel sommer lekker na die koekies en melk, hy sal netnou die lemoen uitsuig.

Arno sit nog so, toe hoor hy ‘n gesteun. Hy buk vorentoe en sien iets onder sy been roer. Hy kyk, lig sy been op om beter te sien, en daar spring ‘n klein groen mannetjie kwaai onder sy been uit. “Jou aaklige vet lummel! Kan jy nie kyk voor jy gaan sit nie! Kyk nou hoe lyk my hoed. Ek gaan dit nooit weer regkry nie! Die punt gaan nooit weer regop staan nie.”

Voor Arno iets kan sê spring die mannetjie meteens op Arno se maag. Hy pluk ‘n blom uit sy sak, spring vorentoe en voor Arno kan keer, druk hy dit onder Arno se neus.

Arno voel baie snaaks. Dit lyk of die takke van die boom bokant hom skielik verder en verder weg van hom af gaan. Hy kyk of hy die groen mannetjie kan sien en dan sien hy die mannetjie staan langs hom – Arno is nou nog kleiner as die mannetjie en moet opkyk na hom toe.

Die groen mannetjie gryp vir Arno aan die hand en hardloop met hom reguit op die boom af. Net toe Arno dink hulle gaan in die boom vas hardloop, sien hy onder die boom se wortel wat bo die grond uitstaan, ‘n deurtjie. Die groen mannetjie trek ‘n toutjie en iewers agter die deur lui ‘n klokkie. Na ‘n rukkie vra ‘n growwe stem van binne af “Wie is daar? Sê jou naam en die wagwoord!” Die groen mannetjie antwoord vinnig. “Dis Kaalvoet Kromtoon. Maak oop die deur, dan sê ek die wagwoord in jou oor. Ek het vir Arno by my en kan nie die wagwoord voor hom sê nie.” “Wat! Arno wat in die groot huis bly? Die mensekind?”

Die deur gaan oop en ‘n baie ou groen mannetjie met ‘n lang blou baard en groot gepunte ore staan voor hulle. “En hoe durf jy ‘n mensekind hierheen bring?” Die ou mannetjie lyk so kwaai dat Arno sommer begin rem en trek om sy hand los te kry, maar Kaalvoet klou vir al wat hy werd is. “Oupa het mos gehoor wat Prinses Goud van hom vertel het. Hy is ‘n slim seuntjie en dalk kan hy ons help.” “Ag my kind,” sug die ou mannetjie, “as hy maar net kon. Maar jy sien hoe die mense deesdae maklik bome afkap. En jy het gehoor wat Arno se pa Henk gese het, dat die buurman hierdie boom waarin ons bly, wil weg hê.” “Wat sê omie daar?” vra Arno onsteld. Hy speel self so lekker onder die boom, hy sal niks daarvan hou dat die boom afgekap word nie. “Ja Arno, dis wat die buurman sê. Die boom moet af, want in die winter val sy blare af en beland in die swembad.”

Arno kan sien hierdie is ‘n groot probleem, een waarvoor hy nie raad het nie. Miskien sal dit beter wees as hy so gou hy kan vir Ma Karin en pa Henk van die probleem kan vertel. Hy weet sommer hulle sal aan ‘n plan kan dink om die buurman te laat afsien van sy plan. “My ma en pa is baie slim. Ek is seker hulle sal kan help, maar dan moet julle my so gou moontlik laat teruggaan. En o ja, hulle sal niks daarvan hou dat ek nou weer so klein is nie. So maak my asseblief weer net Arno, die mensekind van die groot huis.”

“Arno, omdat jy jou maniere nie vergeet het nie, selfs toe ons jou vasgehou het nie, en jy boonop graag wil help, kan jy dadelik gaan sodra dokter Spinaat jou ingespuit het.” Arno wil nog teestribbel, toe voel hy meteens ‘n hele klomp naalde in sy arm. Hy maak sy oë oop en sien dat hy bo-op sy arm aan die slaap geraak het. Het hy gedroom?

Heel eerste vra hy vir ma Karin van sy arm. Sy vertel mooi dat hy die bloed se vloei in sy arm gestop het, toe hy daarop gelê het, en toe dit weer begin vloei het dit vreemd gevoel, soos naaldeprikkies. En sy belowe hulle sal alles doen om die boom te red.

Arno kan maar nie vergeet van die boom waar hy elke dag speel nie. Sê nou maar die buurman hou aan klae totdat sy pa maar verplig is om die boom af te kap! Wat sal van die klein groen mensies word en waar sal hy en Pula weer so ‘n lekker groot boom kry, wat op die warmste dag vir koelte sorg.

Die winter is verby en ook die lente met lekker lou-warm dae en vrugtebome vol bloeisels. Dis nou somer en die dae word elke dag warmer. Die vrugtebome se bloeisels het lankal plek gemaak vir piepklein vruggies wat by die dag groter word. Arno kan amper nie wag vir die eerste ryp perskes nie. Pa Henk sê hy hoop net die warm weer bring nie storms van wind en hael nie. Arno vra hoe hy sal weet dat dit gaan hael. Ma Karin vertel mooi dat mens nie seker sal weet nie, maar dat spierwit wolke wat lyk asof hulle wil ontplof, baie keer hael bring, veral as dit vooraf baie warm is. Ook weerligstrale en harde donderslae is deel van die somer storms.

Dan is dit die beste om liewer in die huis te kom. Onder ‘n boom kan dit dan gevaarlik wees. Weerlig kies graag pad na die aarde deur die hoogste bome of torings, en as mens dan onder die boom is, kan jy baie seerkry. Behalwe vir die weerlig, is daar ook nog die gevaar dat droë takke in sterk wind kan afbreek en op jou val. Arno besluit om van nou af die wolke dop te hou. Sê nou hy hardloop nie betyds huis toe nie en Pula kry seer! Of Emmerkop reën nat en roes weer. Hy wonder wat van de Groenies sal word as ‘n weerligstraal die boom tref. Hy besluit om liewer nie aan die aaklige moontlikheid te dink nie.

Arno swaai heen en weer op sy skoppelmaai (die een wat Pa Henk van die ou buiteband gemaak het) en elke keer as hy opswaai kyk hy sommer wat die wolke maak. Skielik begin die wolke al hoe vinniger deur die lug sweef. Dit lyk kompleet asof hulle met ‘n resies besig is. Die wolke is spierwit en lyk asof hulle bo-op mekaar klim. Die wolke bondels word al hoe groter. Arno is skoon gehipnotiseer, so aandagtig hou hy die wolke resies dop.

Daar is een groot wolk wat skielik reg bokant Arno stil in die lug hang. Tot Arno se verbasing sien hy die wolk het ‘n kwaai frons, en dan hoor hy die wolk praat met homself. “Ag hoekom het ek tog so baie waterdamp gesluk. My maag is swaarder as wat ek kan dra. Die wind wat my boontoe stuur is ysig!. Waar is die son tog nou, ek kan dt nie meer hou!” En toe spoeg die wolk!

Arno skrik hom amper gedaan toe hy ‘n yskoue druppel op sy wang voel. Dan weet hy hy moet so gou moontlik by Ma Karin in die huis kom. Hy nael huis toe, maar sien dan die buurman sukkel om sy hek oop te kry. Toe Arno boonop die eerste haelkorrel voor hom in die stof sien plof, dink hy vinnig. Hy hardloop na sy eie hek toe, maak dit wyd oop en wys vir die buurman om in te ry.

Die haelkorrels val nou vinnig en ‘n paar tref vir Arno op sy kaal armpies. Emmerkop skree “ti-i-i-ng-ng-ng” so hard hy kan. Gelukkig sien die buurman gou wat Arno se plan is. Hy ry tot langs Arno en maak vir hom die motordeur oop. Arno klim vinnig in en saam ry hulle tot onder die groot akkerboom by die agterdeur.

Ma Karin het alles gesien. Sy nooi hulle in, gee die buurman ‘n handdoek en droog Arno af. Sy swel van trots. Haar klein seuntjie was baie dapper. Sy maak vir die buurman koffie en gee vir Arno melk.

Dit hael totdat die agterplaas spierwit van die yskorrels is. Hulle kan maar net kyk en wag dat dit weer moet ophou.

Toe dit ophou hael, gaan hulle na buite. Die buurman kan nie genoeg keer dankie sê vir Arno wat so vinnig gedink het nie en wil net weet wat hy vir Arno as beloning kan gee. Arno is ‘n rukkie stil en dan weet hy wat om te vra.

“Al wat ek graag wil hê, is dat oom asseblief nie moet vra dat my pa die groot denneboom in die hoek moet laat afsaag nie. Dit is my en Pula se beste speelplek en ek weet elke boom het ‘n werk, net soos die akkerboom vandag oom se kar veilig gehou het. Asseblief oom.”

Ma Karin kan haar ore nie glo toe die buurman dadelik instem dat geen groot bome afgekap word nie. Arno neem hom voor om nog laat vanmiddag as hy kan, na die Groenies te gaan soek om aan hulle die goeie nuus te vertel.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Verhale
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Verhale
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Verhale
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
24 Mei 2012
Verhale
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?
15 November 2005
Verhale
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.

Onlangse kommentaar

kykNET Fiëstas-toekennings 2018 | Roekeloos
2017-12-07 08:37:03
[…] TEATERONTWERP: Jaco Bouwer – Liewer: Stel Marthinus Basson – Die koninkryk van...
kykNET Fiëstas-toekennings 2018 | Roekeloos
2017-12-07 08:36:45
[…] AKTRISE: Anna-Mart van der Merwe – Liewer Antoinette Kellermann – Asem Illse R...
kykNET Fiëstas-toekennings 2018 | Roekeloos
2017-12-07 08:36:29
[…] AKTEUR: Albert Pretorius – Wild De Klerk Oelofse – Nêrens, Noord-Kaap Pa...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.