Kieslys

Close


*/

30 Mei
2017
Verhale
2822 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Arno gaan see toe

Arno is steeds Pa Henk en Ma Karin se eie, beste woelwater. Hy is altyd besig, en sy verbeelding werk dikwels oortyd. Sy beste maatjie is sy hond Pula. Maar dan is daar nog Emmerkop, wat hy self gemaak het.

Vandag voel Arno nie baie lekker nie. Mamma bak al heel week allerhande lekker koekies, werk aan hulle klere en het ‘n klomp oop tasse op die bed in die spaarkamer. Wanneer Arno met haar praat, antwoord sy nie dadelik nie. Maar Arno kan sien sy is baie besig.

Hy klouter op ‘n stoel, gooi nog water wat hy met ‘n melkbeker by die kraan getap het, in die ketel en skakel die ketel aan. Hy sit ‘n teesakkie in ‘n koppie, met die suikerpot daarby. Hy pluk ‘n blommetjie in die tuin en sit dit in ‘n glas met water langsaan. Toe die ketel kook, roep hy vir ma Karin. Hy weet kookwater is gevaarlik, anders sou hy die tee self gemaak het.

Ma Karin staan verstom. Sy kry trane in haar oë. Arno skrik, wat het hy verkeerd gedoen, wonder hy. “Arno, jy is die liefste, oulikste seuntjie wat ‘n ma kan hê! En wat kan ek vir jou ingooi, miskien ‘n lekker yskoue glas melk?” “Asseblief mamma, maar hoekom huil mamma?”

“Arno, mammas is snaakse goed. Hulle huil wanneer hulle hartseer is, maar huil ook wanneer hulle baie bly is. En ek is baie bly dat liewe Jesus vir jou so ‘n mooi sagte hartjie gegee het.” Mamma dra haar tee en Arno se melk op ‘n skinkbord met koekies stoep toe. Toe hulle altwee lekker sit met hulle drinkgoed en koekies, sê mamma: “Ekskuus Arno dat ek nie eerder gesê het nie. Jy het seker gesien ek maak klere reg, bak koekies en begin pak. Nou ja, dis omdat ons een van die dae ‘n bietjie by die see gaan uitkamp. Jy het nog net prentjies van die see gesien, maar dan sal jy sien hoe die see regtig lyk. Jy moet nie oor Pula bekommerd te wees nie. Ons gaan hom by oupa op die plaas los. Hy sal die veld geniet en elke môre vars melk by sy kos kry. Gaan speel maar lekker en vertel so lank vir Pula van die lekker plaas. Maar voor jy weg hardloop, sien jy hierdie groot skulp, dit kom van die see af. Hou dit teen jou oor. Die see klink net so.”

Arno voel nou sommer baie beter en draf buite toe om vir Pula te soek. Arno is bietjie hartseer dat Pula nie saam gaan nie, maar baie opgewonde oor die see wat hy nou regtig gaan sien.
Elke aand wanneer mamma hom kom nagsê, wil hy weet hoeveel slapies daar nog is voor hulle see toe ry. Dan wys mamma op haar vingers en Arno trek een vinger op die prentjie van sy hand, dood sodat daar eweveel vingers van sy prentjie en mamma se hand oor is.

Toe oupa vir Pula kom haal, weet Arno dit is nou nie meer lank nie. Hy wonder waarmee hy by die see gaan speel. Hy moet seker sy speelgoed ook inpak. Maar mamma sê Emmerkop moet by die huis bly. By die see roes alles tog te maklik van die soutwater. Sy hart is seer want dan is daar nie eintlik veel ander goed wat hy kan saamneem nie, maar dit is nie vir lank nie, want Arno weet hy kan altyd ‘n plan maak.

Toe pappa Donderdag-middag van die werk af kom, roep hy vir Arno om gou saam te ry na die motorhawe toe. “Arno voor mens baie ver gaan ry moet mens seker maak jou buitebande is reg gepomp en jou noodwiel is reg vir gebruik. Dit is wat ek en jy nou gaan doen.” “Ek sien pappa, en dit is seker ook hoekom pappa die motor vol brandstof maak.” “Ja seun, en dis hoekom ons die olie en water ook laat nasien. Ons moet ook die waterbottel vir die ruitveërs volmaak. Dit kan lastig wees as ons voorruit vuil is en ons kan nie die ruitveërs gebruik om dit skoon te kry nie.” Nou word Arno so opgewonde dat hy skaars kan stilsit in die kar. As hy nie sy veiligheidsgordel aangehad het nie, sou hy seker op en af gewip het op die sitplek.

By die huis gekom, dra pappa al die tasse en houers na die agterdeur. Hy wil nie die tasse in die kar pak waar almal in die straat kan sien hulle maak reg om te ry nie. Pula is nie by die huis nie en as die skelms sien hulle gaan weg, kom hulle dalk kwaaddoen. Net toe pappa klaar is, roep mamma om te sê die kos is reg.

Arno wil sommer dadelik gaan slaap dat die nag kan verbygaan en hulle kan ry.

Na sy bad en die drukkies van mamma en pappa, is hy sommer gou aan die slaap. Dit voel vir Arno of hy nog skaars geslaap het, toe mamma hom wakker maak. Hy was gou sy gesig, borsel sy tande en hardloop kombuis toe. Hulle eet gou beskuit saam met ‘n koppie stomende koffie, en na mamma die koppies uitgespoel het en pappa al die vensters en deure nagegaan en gesluit het, is hulle in die kar en uiteindelik op pad see toe.

Pa Henk het geduldig vertel dat dit BAIE ver is see toe en Arno het gesê hy verstaan, maar hy het nie geweet hulle gaan só lank ry nie. Gelukkig het Arno na die middagete in die eetplek by die motorhawe aan die slaap geraak.

“Arno, wakkerword. Dis nou nie meer lank nie. Ek dink ons moet nou fyn kyk. Ek wonder wie gaan eerste die see sien.” Nou is al Arno se aandag by die omgewing. Alles is lowergroen en daar is rye en rye heuwels so ver as mens kan sien. En dan meteens gewaar hy die blougroen agter die heuwels wat op die gesigseinder aan die wolke raak. Arno kraai van plesier wanneer pappa en mamma hom prys omdat hy eerste die see gesien het.

Arno help fluks om tent op te slaan en vir alles ‘n plek te kry, want pappa het belowe hulle gaan nog voor dit heeltemal donker is gou strand toe stap.

Eers is hy verbaas oor al die Sand en plante wat sommer in die Sand groei. Hy sukkel om met sy kort beentjies by mamma en pappa te bly, en gly elke keer ‘n endjie terug wanneer hy vorentoe tree, maar pappa het hom gou aan die hand en help hom met geweld teen die Sand uit. Hy het so gesukkel dat al sy aandag by sy voete was, wat maar net nie kon vastrap nie. Toe hy skielik agterkom dat hy bo is kyk hy op en is sy asem omtrent weg. So ver as hy kan sien is daar die diepblou water en op die voorgrond massas onstuimige, skuimende water wat skielik naderkom en dan weer wegloop, sodat hy wonder waarheen dit skielik gaan. Maar net so gou kom die volgende klomp water – golwe sê Pa Henk.

Arno is half skrikkerig, maar met sy handjie in pa Henk s’n, sien hy kans vir baie. Hulle stap nader. Arno is maar skrikkerig en klou aan Pa Henk se hand. Die laaste golf het teruggetrek en Arno los Pa Henk se hand en storm uitbundig vorentoe, maar net toe hy wil omdraai, kom die volgende golf skuimende water. Arno voel die water om sy bene, om sy lyf, maar net toe hy dink dit gaan oor sy kop, gryp Pa Henk hom en hou hom hoog bokant die branders. Dit word ‘n speletjie, Arno tart die brander, en op die laaste oomblik red pappa hom. Hy raak al hoe meer gemaklik met die branders, totdat Pa Henk rustig op die Sand kan sit en hom dophou.

Toe dit begin donker word, stap hy en Pa Henk terug tent toe. Ma Karin het reeds in die kombuis-tent kos gemaak. Pa Henk steek ‘n kampvuur aan, dan stap hy en Arno na die badkamers toe om die taai soutwater onder die stort af te spoel. Terug by die tent eet hulle om die vuur. Arno en Pa Henk help gou om die skottelgoed te was, dan tel Pa Henk vir Arno op en begin vir hom stories vertel. Arno het nie veel gehoor voor hy vas aan die slaap was nie. Hy het net nog seker gemaak dat hulle môre nog by die see gaan wees. Dit is net so jammer dat Emmerkop en Pula nie kon saamgaan see toe nie.

Arno word wakker en kyk om hom rond. Alles is vreemd, maar dan onthou hy hy het gisteraand in sy slaapsak geslaap in sy eie klein tentjie. Hy staan op en loer na buite. Hy sien Pa Henk is al in die kombuis-tent. ‘n Koppie koffie en ‘n stukkie beskuit is net wat hy nou nodig het, en dan see toe!

Arno kry maar moeilik om geduldig te wees, maar hy weet hy moet help om alles netjies en toe te maak voor hulle strand toe stap. Hy het nog nie ape gesien nie, maar hy weet pappa sal nie daaroor jok dat hulle iewers in die bome wag tot hulle sien daar is niemand by die tente nie.

Die drie van hulle baljaar in die water totdat hulle stokvlou op hul handdoeke neerval. Ma Karin smeer vir Arno en pappa met sonskerm en gee vir Arno sy laphoed om op te sit. Arno is gou weer uitgerus en sleep pappa aan die hand na die rotse toe. Tussen die rotse is daar ‘n wonderwêreld van gekleurde vissies en plantjies. Pa Henk vertel vir hom van die skulpies wat saam met die diertjies wat in hulle bly, groei. Pa Henk wys vir Arno die vaalgrys vissies in die vlakwater en rotspoeletjies. Hy sien hoe hulle net soos ‘n verkleurmannetjie van kleur verander wanneer hulle in die sandpoeletjies beland. Hulle klim en klouter al verder weg van die strand af. Pappa maak egter seker dat hulle nie met hoogwater afgesny word van die strand nie. Maar toe hulle sien dat die gety begin inkom, draai hulle in elk geval terug strand toe. Arno is pootuit, dors en honger.

Ma Karin sit reg met koeldrank, vleis en tamatie broodjies en koekies. Pa Henk slaan nog ‘n sambreel op en gooi Arno se handdoek vir hom oop. Arno speel so ‘n bietjie in die sand, maar dan gaan hy op die handdoek onder die sambreel lê. Die see se gesuis word net so nou en dan deur ‘n harde klap van ‘n brander wat op die rotse breek, onderbreek.

Arno voel die water by sy voete, hy probeer vinnig opspring, maar dan voel hy hoe hy vinnig saam met die water wat terugvloei see toe, afgly tot hy onder die brander deur is, net soos hy gesien het van die ander mense maak. Hy onthou wat Pa Henk hom geleer het – swem vyf keer soos ‘n hondjie, rus ‘n bietjie en swem weer vyf keer. Dit werk. Skielik voel hy iets aan sy voete vroetel. Hy probeer in die water afkyk, maar daar is te veel sand. Hy asem diep in en gaan sit onder die water op die sand. ‘n Klomp skulpdiertjies het hom beet en sleep hom dieper in die water in. Net toe hy baie benoud raak, kom hy agter dat hy tog kan asemhaal al is hy onder die water. Hy wonder waarheen die skulpdiertjies – slakkies – met hom oppad is. Hy is te nuuskierig om los te ruk en gaan liewer saam.

Die slakkies is moeg. Arno beduie dat hy vrywillig saamgaan. Hulle is nie heeltemaal tevrede nie, wikkel ‘n stuk seewier om sy groottoon, wat hom hardop laat skater omdat dit so kielierig is. Die slakkies klou aan die seewier en Arno volg tot hy dink hy weet in watter rigting hulle gaan, dan stap hy vooruit en trek hulle saam. So kom hulle uiteindelik by ‘n groot rots met ‘n donker gat in die middel. Toe Arno wil instap, voel hy meteens ‘n skok deur sy enkel, hy kyk af en sien ‘n lang dun vis wat heen en weer by die ingang swem. Die slakkies kom vorentoe en gaan staan op hul skulphuisies se punte en waai hulle voelers heen en weer. Die lang vissie gaan staan op sy stert se punt en buig laag om te beduie dat hulle maar kan ingaan.

Binne in die grot is dit baie donker, tot hulle by ‘n plek kom waar daar ‘n gat in die grot se dak is waardeur die son skyn. Hulle is nou binne-in ‘n groot sonskyn grot. Groot skulpdiere is oral besig met iets terwyl party rustig teen die grotmure sit. Op die vloer is daar sand, pêrels en seegras wat soos ‘n mat van kant tot kant groei.

Bo-op ‘n rotspilaar wat teen die rotsmuur uitstaan, sit ‘n reuse rooi kreef, en ‘n bietjie lare af, ‘n seekat. Die seekat kom dadelik nader. Arno is doodbenoud wanneer hy die seekat se tentakels om sy arms, sy bene, sy lyf en sy nek voel. Dit gebeur so vinnig dat hy nie kans het om eers te probeer keer nie. Dan word alles donker.

Toe Arno weer kan sien, is hy nog steeds in die grot, maar nou kan hy hoor wat al die seediere en visse praat, en wanneer hy antwoord, verstaan hulle hom. Intussen het daar ‘n groot vis wat op sy vin ‘loop’ bygekom. Hy hou ‘n silwer stok in sy een vin vas en het veelvuldige groeisels oor sy kop en langs sy mond, byna soos hare en ‘n baard. Hy lyk glad nie vriendelik nie.
“Wat maak die mensekind hier en wat is sy naam?” “Ons het nog nie gevra wat sy naam is nie, maar ons het gesien hy het heeldag gespeel en niks rommel gestrooi nie. Ons het gedink hy kan ons dalk help Koning Grootbaard,” antwoord die slakkies.

“Nou toe, wat is jou naam?” vra Grootbaard kwaai. “Arno oom koning”. “Ha-ha, ha-ha, ha! Oom koning! Moes ons regtig die domste seuntjie kies?” lag die slakkies.

Grootbaard word eers pienk, toe pers en toe baftablou van woede. “Gedra julle! Dis nie hoe ons gaste behandel nie. Hoe moes hy weet hy moet ‘u majesteit’ sê, as hy nie ‘n koning in sy wêreld het nie. Arno, verskoon hulle asseblief.” Arno knik, hy geniet die avontuur en voel glad nie erg gesteurd oor die slakkies se aanmerking nie. Hy weet mos hy is sy Pa Henk en Ma Karin se slim seuntjie. – Hy was mos al op ‘n planeet saam met Pula (al wil niemand dit glo nie).

Grootbaard klap sy vinne teen mekaar en ‘n groot blou dolfyn met die mooiste ‘glimlag’ kom nader. “Olifia, Gaan wys vir die seun hoekom hy hier is.” Olifia buig laag voor Arno en nooi hom om op haar rug te klim.

Hulle spoed deur die water en soos hulle verby die strande van die wêreld snel vertel Olifia watter land se strand dit is Durban, Cape St. Francis, Port Elisabeth, Hiberdene, en nog baie ander. Arno het darem al party name skrams in die nuus gehoor.

Sy vertel hom van al die visfamilies wat mens nooit weer gaan sien nie omdat mense meeste van hulle gevang en opgeëet het. Die ander kon nie oorleef nie omdat die seeplante en slakkies nie meer tussen al die rommel van die mense kon leef nie, en nou kan dieselfde dalk met Grootbaard se grot gebeur.

Olifia vertel ook van die oseaan(see) se reuse vervoer sisteem wat gedurig van die koue pole vloei na die warm water soos naby Mexico. Sy vertel ook dat die see verskillende name het, Indiese oseaan, Stille oseaan en Middellandse see. In die Middellandse see, sê Olifia meteens “hou styf vas” en duik diep.

En dan sien Arno die reuse klomp gemors op die seebodem. “Jy sien Arno, as dit so aanhou, is daar een van die dae nie meer plek vir lewe nie. As jy mooi kyk, sal jy ook sien al die korreltjies op die strand waar julle vakansie hou, is nie meer sandkorreltjies nie, maar ‘n mengsel van fyn stukkies plastiek, sand, glas, verharde olie, geroeste blik en nog baie ander goed.” “Maar wat kan ek doen Olifia?” “Arno jy moet vertel wat jy gesien het, en as jy eendag groot is, daaroor skryf. Vir nou moet jy nooit toelaat dat ander om jou rommel strooi nie, en help om dit wat klaar gestrooi is, op te ruim.”

Arno voel ‘n lekker koel briesie oor sy voorkop. “Wa – waar is” Ma Karin lag, Arno jy het so diep geslaap, jy het skoon vergeet ons is op die strand.” Arno spring op, kyk om hom rond en wil sommer begin huil. Die strand lê vol rommel. Hy begin opruim, en gou is daar nog kinders en later groot mense ook wat help. As mens net eers begin …




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Verhale
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Verhale
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Verhale
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Verhale
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Verhale
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Die Alternatiewe Verklarende Afrikaanse Woordeboek: komplot | Roekeloos
2018-12-09 20:26:41
[…] Roekelose Woordeboek […]...
Inskrywings is oop vir LAPA se 2019 jeugromankompetisie | Roekeloos
2018-12-05 08:59:45
[…] gewilde kompetisie het al groot name getrek, soos Fanie Viljoen (Afkop), Marita van der Vy...
Milla Jovovich naak in Purple | Roekeloos
2018-11-30 14:40:17
[…] is die tweede bekende aktrise wat vanjaar naak in ‘n Franse tydskrif verskyn. Eers w...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD