Kieslys

Close


*/

11 Julie
2017
Verhale
434 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Die vrou op die perdewa

Barend Venter loop by die agterdeur uit en tuur in die vroegoggend skemering na die gesigseinder. In die ooste verkleur die lug reeds. Hy hoor die gewerskaf by die kraal, emmerhingsels, die melkers se ho, ho, soos hulle die koeie laat stilstaan om gespan te word. Een sal seker nou-nou die eerste emmer melk bring na die roomafskeier. Hy gaan in die buite-kombuis in en maak so lank die koffie. Geen teken van reën. Hy kan die teleurstelling op Daleen se gesig vir hom voorstel, wanneer hy bieg dat daar nie eers ‘n vlieswolkie iewers te sien is nie.

Die roomafskeier wat begin sing ruk hom terug in die hede. Hy vang ‘n bietjie room by die tuit van die roomafskeier, vul die beker met warm koffie om vir Daleen te gaan verras. Toe hy uit die buite-kombuis uitstap, sien hy Daleen is ook reeds op, voorskoot en sonhoed-gereed vir die dag. Hy gee die koffie sonder ‘n woord, kyk diep in haar oë om haar gemoedstoestand te peil.

“Môre liefste man van my! Die koffie gaan fantasties wees.” Hy wonder hoe sy dit regkry om ondanks al die druk van die boerdery, droogte en diere wat vrek, nog so gemoedelik te kan wees. Hulle twee kom ‘n lang, opdraande pad vol hindernisse tot by hierdie môre en hierdie dag. Wat het hom besiel om met die mooiste, liefste meisie ‘n verhouding te begin, terwyl hy, arm Barend Venter, sukkelende jong boer, haar onmoontlik kon gee waaraan sy as dokterskind gewoond was. Sy eie familie het hom gewaarsku. Sy sou dan nooit ‘n boervrou kon uitmaak nie.

Die eerste jaar op die plaas was een lang wittebroodsreis. Hulle het alles saam aangepak. Sy het langs hom ingeval, ongeag watter dagtaak sy aandag geverg het en hy het haar geduldig haar voete help vind in die buite-kombuis. Dit was ‘n geseënde oesjaar ten opsigte van die graan en die lammeroes.

Daleen se empatie met die werkers, haar geduld en aandag was nooit te min vir die geringste klagte of probleem nie. Die geluk wat in hul huis tuis was, het ook tuiste gevind in die werkershuise.

Die enigste donker wolke was die familie wat steeds aan beide kante nie die huwelik goedgesind was nie.

In hulle derde jaar saam op die plaas het die storms in die wêreldekonomie losgebars. Aanvanklik was dit daar ver, ver van hulle klein paradys. Uiteindelik het hulle begin besef dat hulle nie die stygende brandstofprys, hulle eie stygende bestaansuitgawes en die groter arbeidskoste permanent op die agtergrond kan skuif nie.

Die bankbestuurder was baie vriendelik en was dadelik bereid om ‘n verband op die plaas te registreer. Hy het die eiendom goed geken. Sy pa het altyd gesê hy sou wat wou gee om die stuk grond te bekom met die watertjie uit die berg, die bome aan die reënkant van die berg, waar ‘n huis knus kan pas, mens saans op die stoep sou kon sit en die vrede van die nagstilte ervaar.

En in die vierde jaar loop hul beker oor. Die seun waaroor hulle gedroom het, klein Barend word op Daleen se verjaardag gebore. Aanvanklik gaan dit goed. Daleen pas die nuwe verantwoordelikheid na drie maande in hulle daaglikse skedule in. Barend het ‘n waentjie gemaak waarin klein Barend wat nou Barrie geword het, met alles wat hy nodig het, pas.

Hulle is vroeg al op die lande of by die kraal. Dit lyk asof Barrie al die geluide om hom indrink, aan sy gekraai te oordeel. En wanneer hy kriewelrig raak, kry hy ‘n droë doek en ‘n versnapering. In hulle klein paradys kon dit nie beter of mooier wees nie.

Soms dink Daleen sy verstaan hoekom die mense van die streek sulke sterk mense is. Om dag na dag die goue koepel met hoop dop te hou en saans tot wie weet hoe laat buite op die stoep die gesigseinder dop te hou vir weerligflitse wat dalk kan verraai dat daar hoop op reën is, om net maar weer die volgende dag steeds te hoop en te vertrou, is vir diegene met geestelike krag.

Maar vanmôre, ondanks haar vriendelike uitbundigheid, lyk Barend besonder ernstig en stroef: “Daleen ek moet met jou praat. Jy werk net so hard soos ek en ons het eenmaal ons kallers in een kraal gejaag. Ek moet jou raadpleeg wanneer ek belangrike besluite moet neem.”

“Waarvan praat jy tog Barend? Jy weet tog ek vertrou jou een honderd persent om die beste vir ons drie te besluit.”

Barend is vir ‘n minuut of wat stil en begin dan: “Nou ja, jy weet ons moes reeds ‘n lening by die bank maak. Die bestuurder was toe baie vriendelik en tegemoetkomend, maar is nou baie hard, hy is seker ook maar versigtig om sy eie pos te beskerm. Ons sal nie die eerste terugbetaling kan maak nie en hy wil nie eers ‘n gedeelte daarvan aanvaar nie; dring aan op die volle paaiement. Hy het ook aangebied om die plaas te koop teen ‘n prys wat ons met baie min sal laat nadat al ons skuld en die bank se lening betaal is. Ek het met my ouers en oudste broer gepraat, maar hulle word net soos ons deur hierdie droogte uitgeroei.

Jy weet ek het in die Midde-Ooste gewerk voor ek begin boer het, omdat my ouer broers die twee plase van my pa sou erf. Nou ja, as ons nie op ‘n ander manier geholpe raak nie, sal ek verplig wees om weereens in die buiteland te gaan werk.”

Daleen het nooit baie uitgevra oor Barend se buitelandse werk nie. Sy merk nou dat Barend hierdie besluit baie teensinnig sal neem. “Maar hoe gaan dit ons onmiddellike probleem oplos, Barend?” “Daleen bekommer jou nie. Sodra ek besluit het, word die probleem opgelos. Jy sal moet sterk staan, aangaan met die boerdery en vir Barrie ma én pa wees tot ons oor hierdie struikelblok is.”

Daleen sien dit sal nie help om nou verder uit te vra nie, besluit om die dag tuis te bly en Barend kans te gee om oor sy besluit te dink. Terselfdertyd moet sy besluit of sy haar trots in haar sak moet steek en haar pa moet nader vir hulp. Gelukkig is dit Woensdag en weet sy haar pa het nie spreekure in die middag nie. Sy sal net moet skakel voor Barend terug is van die lande, anders sal sy nie spontaan teenoor haar pa kan reageer nie.

Uiteindelik, teen drieuur skraap sy genoeg moed bymekaar om haar pa te skakel. “Middag pa, hoe gaan dit daar?.” “Nee, met ons gesondheid is daar nie fout nie,” beantwoord sy haar pa se teenvraag. Dan vervolg sy “ek het geensins vergeet hoe pa hulle oor my en Barend se troue voel nie. En ek sou sekerlik nie met ons probleem na pa toe gegaan het, as dit nie was dat daar net nie ‘n ander opsie is nie, omdat ek pa se standpunt respekteer.” Sy bly lank stil, maar haar pa moedig haar nie aan om verder te praat nie. Dan kom sy maar met die hele sak patats vorendag. Die geld wat hulle die bank skuld, die droogte, die bankbestuurder wat duidelik sy oog op hulle plaas het en dié se ultimatum. Na byna ‘n volle minuut stilte kom die harde, byna selfvoldane antwoord. “Daleen ek het jou gewaarsku. Jy het willens en wetens jou toekoms op risiko geplaas.” Ek het niks vir jou te sê nie.”

Daleen kan nie besluit of sy kwaad of oneindig hartseer is nie, byna asof haar ouers haar ontval het. Dan hoor sy Barrie is wakker. Sy maak hom gemaklik en gee vir hom ‘n bottel. Sy besluit om ‘n lekker ete voor te berei en die negatiewe gevoelens agter haar te sit.

Toe Barend by die huis kom, is die tafel gedek, Barrie reeds vas aan die slaap. Daleen lyk buitengewoon goed met ‘n rok wat uit hul hofmaakdae dateer. Sy het kerse in plaas van die gaslampe in die eetkamer aangesteek. Op die tafel lê ‘n turksvyblad waarop sy vetplantjies ingesteek het, en rondom saadboontjies en mielies gerangskik wat “lief jou” uitspel voor die sfeer op niks uitloop aan die kop van die tafel.

Barend kom stil in, maar toe hy die kerse en mooi gedekte tafel sien, glimlag hy onwillekeurig. Hy stort en trek ‘n spierwit hemp aan. Dit is soos Daleen hom graag sien wanneer hulle nie op die plaas werk nie. Sy kom hom by die eetkamerdeur tegemoet. Sonder woorde is hulle in mekaar se arms. Die soen is lank en innig terwyl hulle mekaar styf vashou.

Hulle sit teenoor mekaar by die tafel. Daleen het die opskepskottels reeds op die tafel gesit. Die bredie in die middel geur die vertrek vol. In stilte skep hulle in. Barend kan nie uitgepraat raak oor die lekker kos nie. Dan spring Daleen op en hardloop na die buite-kombuis. Sy kom terug met gebakte bruinpoeding en vla – Barend se gunsteling nagereg.

‘n Ruk later na al die opruim en ‘n vurige liefdesversekering, in mekaar se arms in die donker, begin Barend, “Daleen die geld sal reeds more in die bank wees. Ek het maar vanmiddag besluit ek wil jou nie langer aan die onsekerheid blootstel nie. Ons het net tyd om by die bank reëlings te tref sodat jy voortaan volle besluitreg het. Ek moet reeds oor drie dae op pad wees. Jy weet ek sou jou nooit alleen laat nie as ek nie regtig moes nie.”

Daleen is ‘n rukkie stil, asof sy moed bymekaarskraap voor sy praat. “Barend jy weet ek sal alles doen wat jy van my vra. Ek sal elke dag vir Barrie twee keer soveel liefde gee as gewoonlik. Ek weet jy sal so gou as wat jy kan, terugkom. Ek wil liewer nie vra presies waar jy heengaan of wat jy gaan doen nie. Ek weet net jy doen dit vir ons.”

Barend het sy ouers en broers gaan groet. Hulle die oorsaak van Barend se besluit voor Daleen se deur gelê, die kloof tussen hulle, Barend en Daleen nog groter gemaak. Drie dae later het Daleen vir Barend lughawe toe geneem, desperaat gehoop Barend sal dalk nog van plan verander voor hy moet instap vir sy vlug. Maar Barend is weg en sy moes aanvaar dat sy vir ‘n onbepaalde tyd alleen verantwoordelik sal wees vir haar en Barrie se welstand.

Die môre na Barend weg is, roep sy die werkers bymekaar. Sy verduidelik die finansiële krisis en sê net kortliks dat Barend elders gaan werk het sodat hulle en sy en Barrie op die plaas kan bly sonder bekommernis. Die werkers is meestal ouer mense wat reeds lank op die plaas bly en is maar te dankbaar dat hulle lewens nie ontwrig sal word nie. Toe sy klaar gepraat het, vra Mapule of sy iets mag sê, “daar is baie skelms deesdae wat sal weet Mmê is alleen, ons sal almal ons oë moet oophou. Ek dink Lerato moet maar liewer saans in Mmê se kombuis slaap, en wanneer sy nie kan nie sal ek. En miskien moet ouma Refilwe nou maar saamgaan elke dag om klein Barrie te kyk as sy ma werk.”

Daleen kan skaars praat so aangedaan is sy by die ervaring van soveel lojaliteit en bedagsaamheid. “Baie dankie Mapule, ek sien ek kan op julle reken.”

Daleen maak seker dat al die noodsaaklike pligte aan ‘n werker toevertrou word en beplan vir haarself ‘n duidelike plan van aksie vir elke dag.

Daleen is nie verbaas as sy geen opvolgoproep van haar pa kry nie, nog minder dat sy niks van haar skoonfamilie hoor nie.

Sy werk en boer met oorgawe, inspekteer daagliks die beeste en skape, sorg dat sy aantekeninge maak van al haar waarnemings. Sy probeer om by die geringste teken van siekte pro-aktief op te tree. Die voer wat sy aankoop, word sorgvuldig gerantsoeneer om so lank moontlik te hou.

Na ‘n maand kry sy ‘n brief van Barend. Dit gaan goed met hom, maar daar is geen adres waarheen sy kan skryf nie. Hy verlang baie na haar en Barrie en wens dit was nie nodig dat hy hulle alleen moes laat nie. Hy probeer om gereeld inligting oor die weersomstandighede in Suid Afrika te bekom, want dit sal bepaal of hy net vir ses maande of ‘n jaar sal weg wees.

Barend is nou vier maande weg. Dit het darem gereën en dit lyk asof die droogte gebreek is. Daleen gaan dorp toe, deels om voorraad aan te koop, deels om te kyk of daar nie weer ‘n brief van Barend is nie. Na sy by die koöperasie voorrade aangekoop het, vasgestel het dat daar nie ‘n brief van Barend is nie, gaan sy bank toe om die balans in hul rekening na te gaan. In die bank se deur loop sy in die bestuurder vas. “Nou gaan jy seker maar verkoop nê?” is sy eerste woorde na ‘n kortaf groet. Daleen besluit om haar nie te laat uitlok nie, maar kan nie dink wat hy bedoel nie. Miskien het hy gehoor Barend is nie op die plaas nie en dink hy hulle is vervreemd.

Sy vra ‘n balansstaat aan en sien dat daar weereens ‘n lompsom in die rekening inbetaal is. Dit beteken dan seker dat Barend vir nog ‘n tydperk weg sal wees.

Sy kry vir Barrie en Refilwe en besluit om by die teetuin iets te eet en te drink. Met die instap sien sy ‘n koerant op die toonbank. Sy neem een, sy het reeds die môre met die geskarrel om weg te kom, nie nuus geluister nie. Toe hulle sit, maak sy die koerant oop. Op die binne-blad is daar ‘n groot opskrif: “Suid Afrikaanse man doodgeskiet in Midde-Ooste”. Daleen word yskoud.

Die volgende Woensdag daag die polisie op. Dis waar! Barend is in die Midde-Ooste doodgeskiet!

Weke, maande van spekulasie, navrae, berigte en valse berigte, telefoonoproepe van staatsdepartemente, besoeke van koerante, speurders en nuuskieriges volg. In tussen boer Daleen soos ‘n slaapwandelaar – sy moet aangaan vir Barrie tot Barend kom.

Uiteindelik kry sy berig dat Barend se as in die land aangekom het en dat sy dit kan afhaal. Sy roep die werkers saam en vertel vir hulle die slegte nuus. Soos te wagte is hulle ontsteld. Die vrouens hou aan haar vas en huil saam met haar, terwyl die mans ongemaklik rondstaan met hulle oë op die grond.

Sy reël vir ‘n gedenkdiens met die dominee en laat weet haar en Barend se ouers. Sy is nie verbaas toe hulle niks laat weet nie, sy is net oneindig seer en hartseer.

Toe sy vir Amos vra om die kar te was, kom hy later sê dat hy nie die kar aan die gang kan kry nie. Daar is nie nou tyd om die reëlings vir die gedenkdiens te kanselleer nie. “Amos, sorg dat die pêrewa baie skoon is. Sit een van die eetkamerstoele op die wa – so in die middel. As julle wil saamry kerk toe, moet jy vir julle ook stoele op die wa sit.” “Ag nee Mmê, dis jou en Ntate se hartseer. Ons het ons pêrekarre, maar ek sal vir jou leisels hou more.”

Daleen is vroeg op. Sy hou stiltetyd, versorg Barrie toe hy wakkerword. Sy gaan vir niemand iets vra nie. Sy en Barend sal tot die einde self hulle pad stap. Sy trek ‘n swart rok aan, haal een van haar swart werkkappies van die kapstok af – dit gaan warm wees op die wa. Daleen gaan pluk ‘n gerf aronskelke by die vleidam, wat steeds bietjie water het, Barend sou dit waardeer.

Terug by die huis, is die werkers se pêrekarre reeds in ‘n optog voor die huis. Almal is in hulle kisklere uitgevat, Amos inkluis. Sy beduie dat hulle moet ry. Sy sit ‘n nat handdoek om die gerf aronskelke se stingels, dan groet sy vir Barrie en Refilwe wat liefs tuis moet bly, klim op die wa en gaan sit op die stoel.

“Laat ons ry Amos, laat ons vir Ntate by die Here gaan bêre dat hy kan rus,” en so ry hulle die dorp binne.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Verhale
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Verhale
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Verhale
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
24 Mei 2012
Verhale
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?
15 November 2005
Verhale
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.

Onlangse kommentaar

Roekeloos
2018-01-15 09:15:59
Julle moet die onderskeie fees-organiseerders en/of kunstenaars direk kontak....
Annatjie Smit
2018-01-13 05:19:03
Goeie more. Met wie kan ek kontak maak vir optredes van kunstenaars asseblief. E-mail annatjiesmit1...
Roekeloos
2018-01-10 13:57:45
Miskien is daar 'n antwoord by sy Facebook-blad: https://www.facebook.com/sakka.stone...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.