Jare gelede het daar ‘n vrou in ons straat gebly. Sy was heeltemal onafgewerk en vreeslik reguit. As skoolkinders het ons vinnig verby haar huis gestap en dit nie regtig na haar kant toe te kyk nie. Sy het altyd op haar stoep gesit en wag.

Een middag moes ek na skool bly vir een of ander belaglike ding, soos ekstra klasse of iets. Dit was laatmiddag en ek was amper verby haar huis toe ek haar hoor gil: “Ek gaan nie meer wag nie! Ek sê julle nou – ek is klaar!” Ek kyk om na haar en sien dat sy vinger na my wys en mompel. Ek gaan staan.

“Wat kyk jy so?” vra sy my so tussendeur die sigaretrook terwyl sy haar geleerde sykouse uittrek.

“Wat doen tannie?” vra ek nuuskierig.

“Ek trek uit, want ek kry warm. Hoe lyk dit vir jou?”

Haar lyf was groot en ek weet nie hoe sy in die eerste plek die sykouse kon aantrek nie. Ek wou net begin verder loop toe sy weer praat.

“Ek is klaar gewag.”

“Waarvoor tannie?” Ek was jonk en nuuskierig.

Sy het verder geswoeg en uiteindelik was die sykouse uit. Haar rok, wat eintlik soos ‘n laken met moue gelyk het, was natgesweet.

“Ek is moeg gewag vir die einde.”

Ek gee ‘n tree nader en haar bokhondjie begin vir my blaf.

“Einde van wat, tannie?”

“Wat praat jy, kind! Die einde van alles. Die wêreld is goddeloos. Die einde is onvermydelik, maar ek wag en hy kom nie.”

“Wat maak die wêreld goddeloos, tannie?”

Ek wou weet.

Sy het lank na my gestaar en die hond stilgemaak en onder haar armvoue ingedruk.

“Kind, hou jy van seuns of meisies?” het sy skrefiesoë gevra en ‘n sluk uit die blikkie Black Label gevat.

“Ek hou van seuns, tannie.”

Sy gaan sit stadig en haar lyf omvou die draadtuinstoel. Die hond wriemel uit en hardloop die huis in. Sy steek nog ‘n sigaret aan en sug diep.

“Hoekom hou jy van seuns?” vra sy later.

Ek staan steeds in die straat en maak asof ek haar buurvrou se gebaretaal nie sien wat wys dat ek ‘n teken moet gee as sy die polisie moet bel nie.

“Want dis wie ek is, tannie.”

“Weet jou ma en pa?” vra sy weer.

“Nee, tannie. Ek dink hulle vermoed dit, maar hulle sal niks sê of vra nie. Hulle is te bang vir wat die mense gaan dink en sê.”

So staan ons toe. Sy staar na my en ek na haar.

“Gaan huis toe, kind. Jou saak is reg.”

“Hoe nou, tannie? Watter saak?” wou ek weet.

“Jy sê dis wie jy is? ‘n Seun wat hou van seuns?” sug sy weer.

“Ja, tannie. Dis wie en wat ek is. My ma en pa sê dis verkeerd. Is dit verkeerd?” vra ek huiwerig.

Skielik gaan sit sy regop en glimlag vir my. Die wind waai haar laken se moue oop. Sy het geen voortande, maar dit keer nie haar glimlag nie.

“Nee, my kind. Dis nie verkeerd nie. As jy gesê het jy misbruik dwelms of stamp kleintjies van hul fietse af sou ek gesê het jy is verkeerd. Hoeveel mense ken jy wat weet wie en wat hul regtig is?” Sy vat ‘n laaste sluk uit die blikkie en knipoog vir my.

Ek het nie geantwoord nie, want ek kon nie aan een mens dink nie.

Sy het sukkel-sukkel opgestaan en vir die buurvrou wat steeds by haar venster uithang met die foon in haar hand, reg om die polisie te bel, ‘n middelvinger gewys.

So is sy die huis stadig binne, sonder om verder iets te sê of te groet.

Haar begrafnis was klein. Haar huis is kort daarna verkoop en gesloop om plek te maak vir ‘n nuwe gastehuis.

Ek dink baie terug aan daardie straat en daardie tannie. Sy het gesit en wag vir haar einde en toe sy ophou wag, toe kom dit. Seker maar soos die lewe, hou op wag. Solank jou saak reg is, sal dinge gebeur.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar