Kieslys

Close


*/

11 Januarie
2017
Verhale
830 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Hoe om op ’n date te gaan as jou Citi Golf nie kan reverse nie

Deur Bert van der Walt

Ek sou haar gaan oplaai in ‘n wit Citi Golf sonder ‘n reverse gear en sy sou ontsteld wees want “how can they expect you to drive in this thing?” en ek sou net OK wees daarmee want ek is nie Engels nie en die kar het ronde wiele en kan vorentoe ry.

My broer is mos so Engels. Altyd ‘n bril op sy kop en hy ry nie dié kar nie en hy drink nie dáái koffie nie en sy kinders dra skoene en hoede en mag nie rooi swiets eet nie want dit maak hulle hiperaktief.

Sy sou tog maar inklim en ek sou reguit soontoe ry en met ‘n moerse gesukkel parkering kry waar ek weer sou kon uitkom sonder om te reverse. Ons sou die heelpad tot by die stadion loop en lag en gesels en ek sou foto’s neem van die straatkunstenaars en grapjasse en die massas mense met hulle truie en geverfde gesigte en uitbundige lywe. Ek sou nie foto’s van haar neem nie, nie op ons eerste date nie en ek sou niks wou doen wat negatief in die balansstaat gaan beland nie. Amper soos om in die winkel te loop met jou hande agter jou rug sodat almal kan sien jy het eerbare koop intensies. Nes toe jy vyf was saam met jou ma. En dis die belangrikste van ‘n eerste afspraak: Moenie jou date afpis nie.

Ek sou myself ‘n skalkse glimlaggie toelaat. So far so good … ek sou dink dat die dag so goed verloop as waarvoor ek kon hoop. Ons sou maklik ons komplimentêre sitplekke vind en ek sou maak of ek effens verleë is wanneer van die ander gaste en beamptes my kom groet asof ek ‘n celebrity is. Maar ek sou tevrede wees, dit kan nie skade doen op ‘n eerste date nie, veral nie met haar nie.

Terwyl ons wag vir die afskop sou sy my wys waar haar Belangrike Eksman langs die kantlyn staan en die toeskouers deurkyk om ons te vind. Belangrike Eksman sou natuurlik by die kinders gehoor het sy is ook daar en met ‘n date. Ek sou bly wees dat ek daardie oggend my donker hemp aangetrek het, dit laat my uitstaan en ek sou hoop Belangrike Eksman sien ons maklik raak hier in die BBP sitplekke. Ek en Belankrike Eksman sou oogkontak maak en hy sou eerste wegkyk.

As ons met die stroom mense by die stadion se hekke uitgespoeg word, sou die stad reeds in partytjie luim wees en ek sou al vergeet het van Belangrike Eksman, maar hy sou nog wonder oor my. Na die eerste drankie sou ek voel hoe ek effens meegesleur word deur die gees in die strate en ek sou effens ontspan.

Sy sou vriendelik wees en met haar mond effens oop na my kyk en vertel van haarself. Ek sou haar ongemerk aanpor met die regte vrae – ek ken mos haar verhaal. Lang aande op die internet het ek elke brokkie en feit oor haar bymekaargemaak, familielede se profiele op sosiale media opgespoor, foto’s afgelaai en drome gedroom.

Na ‘n paar onsuksesvolle gholflesse (haar pa en broer is mos so mal daaroor) sou ek oplees oor gholf en gholf-beserings totdat ek met oortuiging vir oom Dave en die ander sou kon vertel hoeveel ek verlang na die dae toe ek die stokke nog kon swaai. Hulle sou lag vir my staaltjies en simpatieke geluide maak oor die besering wat my gunsteling sport so wreed kortgeknip het.

Ek sou kos maak en haar help in die huis en ‘n goeie man wees vir haar en ek sou haar kinders aanmoedig om met hul eie pa ‘n goeie verhouding te bou en ek sou hulle vertel dat ek nie daar is om hulle wêreld te skud nie, ek is net daar om hulle ma lief te hê. Ek sou die oudste, Maddy, help met haar tale en ek sou saamluister na Heather se psy trance musiek. Dit sou Robert goed doen om te leer hoe om sy skate board se koeëllaers te vervang en ek sou hulle leer dat hulle merkwaardige kinders is.

Hoewel ek aanvanklik sou sukkel om die gesin se lewenstandaard op die gholflandgoed te handhaaf, sou ek klasgee by die universiteit of ‘n kollege vir ekstra geld en ek sou my hare lank groei en moeite doen om meer Engels te wees.

Ten spyte van die monumentale berg bagasie wat donkermaanagtig in ‘n geruislose wentelbaan om ons sweef, sou ons OK wees.




1 Opinie:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Verhale
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Verhale
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Verhale
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
15 November 2005
Verhale
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.
24 Mei 2012
Verhale
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

State Fracture | Roekeloos
2017-06-16 13:03:07
[…] span wat verantwoordelik was vir Pay Back the Curry is verantwoordelik vir State […]...
Gert vd Merwe
2017-06-08 09:28:55
JAN JACOBS. Dit is n skreiende skande. Geen mens op aarde kan in Marius Louw se voetspore volg nie, ...
Die intimiteit van ons greep | Roekeloos
2017-06-01 13:52:50
[…] Chameleon se eerste selfgeskrewe en selfgekomponeerde Afrikaanstalige album sedert 2009, j...

Advertensie