Parkinson’s (met ‘n klein p soos Dirkie sê) is baie educational … het ek gevind.

Jy leer dat as jy Pick & Pay toe gaan, haal jy jou kaarte voor die tyd uit om te betaal, want almal KYK as jou hand bewe oor jy nie handsak oop kry nie.

En jy leer dat as jy naar voel- MOENIE gaan shop nie want jy gaan defbeslis jouself verneder.

Jy leer geduld kry, want ’n naald en garing om ’n skool hemp se knoop aan te werk is ’n challenge en neem tyd in beslag …

Jy leer dat nie eers die dekadentste karamel sjokolade koek jou kan honger maak as jy nie honger is nie …

Jy leer om jou hand agter in jou denim se “loop” in te hak as iemand jou omkant vang of as jy te opgewonde is, want jy begin onbeheerbaar bewe. En jy probeer net jou hand stabiliseer.

Jy leer dat go with the flow jou enigste opsie is en nie te beplan nie, want die Parkinson’s ding, het ’n mind en wil van sy eie.

Jy leer dat jy wragtig nie daai botteltjie se deksel gaan oopkry nie, so vra jou man sommer van die begin af vir hulp.

Jy leer om die boek wat jy geskryf het, vooraf te teken, want jy gaan tien teen een nie in daai persoon se geselskap kan skryf nie.

Jy leer jy het wel ’n humeur. Wat kan floreer op amper niks, maar dit laat jou voel die wêreld gaan vergaan oor daai klein probleempie.

Jy leer jy het toe after all hormoon probleme … kom ons praat nie daaroor nie, want jou moods wat jy skielik kry oor die chemical wanbalans in jou brein maak dat jy amper buite slaap.

Jy leer dat as jy goed voel, moenie dink dit gaan hou nie.

Jy leer dat jy jou kinders GAAN verneder … so berei hulle solank voor.

Jy leer dat jy angsaanvalle kan kry, wat jou so laat ruk dat jy nie asem kry nie, nie kan sluk nie, dat als so saam trek dat jy nie kan beweeg nie, dat jy erger hot flashes kry as ’n vrou met menopause. en dat jy seer het … van die brand in jou kop.

Daarna leer jy hoe dit voel as jou hande dood gaan en jy niks kan optel nie, niks fisies in jou hande kan voel nie. Net ’n tingle dood gevoel … en baie baie pyn, asof jou vel te klein is vir jou vingers.

Jy leer om eerder nie daai swaar bak lasagne uit die oond te haal nie, want jy GAAN dit laat val en WEER moet kos maak.

Jy leer hoe om jou balans, wat jy verloor, te verbloem met maak of jy val … net sodat iemand nie snaaks dink oor jy nie kan regop staan nie.

Jy leer dat almal gaan dink jy is dalk dronk oor die spiere in jou mond nie wil werk nie en jou tong sleep …

Jy leer hoe om te lewe sonder slaap, want die pille hou jou wakker … die goed in jou brein hou jou wakker. Die dônerse Parkinson’s hou jou altyd wakker, maar ja … tweeuur die middag as jy werk, is jy moeër as wat jy kan handle.

Jy leer dat mens kan half mal word, want jy dink jy sien dinge en dis nie daar nie …

Jy vergeet … jy ly aan iets wat jou maak vergeet …

Jy onttrek van die samelewing, van menswees. Jy is depressief en selfmoordneigings is altyd daar iewers, dalk in die agterlobbe van die brein.

Jy wil nie so gesien word nie, jy voel bang, alleen, dus raak jy stil.

Jy leer dat jy kan loop en skielik vashaak … ja jou lyf hak vas en jy moet jouself forseer om te vorder tot by die deur.

Jy leer cope, hel, jy leer COPE. Met jou kind wat ADHD het, jou huwelik wat wankel oor jy nie rêrig weet wat jy wil hè nie, met jou ander kind wat sport mal is … jy ry heeldag rond. Jy werk … en jou lyf sê S T O P, maar jy cope … en jy cope jouself erger in Parkinson’s in.

En jy leer dat mense maskers dra, (want jy dra een) . Jy sien skielik deur mense.

Jy leer dinge aanvaar, ervaar, waardeer … en jy het elke oomblik van die dag LIEF (met so ’n tikkie haat).

Jy kyk in die spieël en jy sien ’n vrou … sonder ’n naam.

Jy leer hoe dit voel om heeltemal beheer oor jouself te verloor, oor jou lewe, oor jou lyf, oor jou denke, oor jou hele dônerse lewe – en DIT breek jou.

O ja … en jy leer dat ’n neuroloog VREK onbekostigbaar duur is.

Dis hoe dit is … nie met Steve nie … met Parkinson’s.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar