Kieslys

Close


*/

18 April
2018
Verhale
1238 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Santie en die selfoon

Santie was nie meer jonk nie. Nou nie oud nie, maar ook nou nie meer in haar twintigs nie. Effens in haar dertigs.

Sy het skool gehou by ‘n klein privaatskooltjie met net ‘n handvol bedorwe brokkies. Die dorp waarin sy gewoon het was klein. Baie klein. Amper te klein om ‘n dorp genoem te word. Haar dae was tot vervelens toe uiters voorspelbaar. Staan op, gaan skool toe, kom terug, merk, eet, TV, slaap.

Naweke het sy by die skool gaan boeke merk omdat sy die reuk van bordkryt en voor die bord staan te veel gemis het. Sy was ongetroud. Dis nie omdat sy vreemd of onooglik was nie, nee. Sy was net bang. Bang vir mans. Haar ma het haar geleer dat mans net moeilikheid is en as jy te lank na een kyk of praat dan gaan jy swanger raak en hy sal jou los. Dis hoe sy in die wêreld gekom het. Haar ma het te lank met die posman gesels en toe sy haar kry was sy swanger. Dis wat sy geleer is en dis hoe dit is. Dis ook hoekom sy nie boeties of sussies het nie. Haar ma het gesê sy is net een keer gevang en nooit weer nie. Dis ook hoekom sy nooit haar pa geken het nie. Sy weet net hy was posman op die dorp en hy en haar ma het oor die hek gestaan en gesels en toe het haar ma swanger geword. Die posman het gesê hy praat met baie mense deur die loop van sy dag en hy kan nie verantwoordelikheid vat vir elke baba net omdat die vrouens geselskap by hom soek nie.

Haar ma is een aand, so vier jaar terug, skielik dood. Santie het nog by haar gebly. Haar ma was besig met die kos in die kombuis toe sy net skielik dood neerval. Santie het haar probeer optel, maar haar ma was drie keer groter as sy. Sy het haar ma toe daar op die kombuisvloer gelos en die dokter gebel. Die ambulans het haar kom haal. Santie het toe maar die kos klaargemaak en begrafnis begin reël.

Die begrafnis was baie klein. Regtig, baie klein. Dit was net sy, die dominee en die bure se kat. Die het per toeval rondgedwaal en langs die graf kom sit. Daar was ‘n ander man ook. Santie het hom nie geken nie. Hy het die hele diens deur en by die graf heeltyd net in sy kar gesit en rook. Na alles verby is het hy gery en “Hie kommie bokke” het by sy venster uitgeblêr. Sy het die man nog nooit vantevore en ook nog nooit weer na daardie dag gesien nie.

Santie het nie baie geweet van tegnologie nie. Haar ma het net altyd gesê dat dit van die duiwel af is. Een pouse het sy gesien hoe een van die seuns vir ‘n ander een pornografie op sy foon wys en dit het die feit vir haar bevestig. Tog was sy nuuskierig. Santie het begin wonder. Sy het begin wonder oor tegnologie en oor mans. Die twee grootste euwels van ons tyd volgens haar ma.

Een Saterdagaand laat sit Santie en TV kyk. Sy sukkel om te slaap en het al elke opstel denkbaar gemerk en omtrent oorgeskryf. Sy sien ‘n advertensie van ‘n selfoonmaatskappy. Santie het nie ‘n selfoon nie. Haar ma het haar daarteen gewaarsku. “Niks fout met ‘n landlyn nie, my kind. Vir wat wil jy nou met ‘n selfoon in jou sak loop?” hoor sy haar ma. En net daar, sommer uit die bloute, besluit Santie dis tyd dat sy ‘n selfoon kry. Sy is moeg vir uit wees. Wat kan nou so erg daaraan wees? Sy gaan nie soos die skoolkinders kaal mense kyk en haarself in die bad afneem nie. Nee, sy gaan een kry. Al is dit net om ook een te hê.

Maandag na skool is sy dorp toe. Sy parkeer haar bruin Ford voor die nuwe selfoonwinkel. Sy loer huiwerig rond. Moet sy nou of moet sy nie? ‘n Selfoon? Op haar ouderdom? Wat gaan sy nou eintlik daarmee doen? “Santie! Wat maak jy nou?” hoor sy haar ma in haar kop met haar praat. Sy maak of sy niks hoor nie en klim stadig uit.

Sy stoot die winkel se deur oop en kyk rond terwyl sy na die toonbank stap. Eenkant in ‘n hoek sit ‘n tiener met oorfone en vingers wat gimnastiek doen op die foon se skerm. Sy stap senuagtig tot by die toonbank. ‘n Vriendelike man kom staan voor haar. “Middag, kan ek help?” Santie skrik vir ‘n oomblik. Sy hoop nie sy moet te lank met die man praat nie, sy weet wat gaan dan gebeur. Sy wil tog nie nou ‘n kind hê nie. Sy praat vinnig: “ Middag, ek wil asseblief ‘n selfoon koop. Enige soort sal reg wees, dankie.”

“Dis reg, mevrou. Het u ‘n spesifieke handelsmerk in gedagte? Verkies u ‘n kontrak?” vra die man wat meer en meer aantrekliker vir haar word. “UH … ek weet nie. Ek het nog nie daaraan gedink nie” stotter sy ongemaklik. “Toemaar, ek sal u help en verduidelik” glimlag hy breed en beloer haar op en af. Hulle stap na ‘n rak vol fone en hy begin praat. Hy praat so baie, maar Santie het geen idee wat hy nou eintlik sê nie. Sy is ietwat in vervoering. Die gedagte van ‘n ongewenste swangerskap lank vergete. Hy praat klaar, draai na haar en vra: “So, watter een val in u smaak … mevrou?” Verbeel sy haar of was die ‘mevrou’ eintlik die vraag en nie die tipe foon nie? Sy wys sommer na die een naaste aan haar en sê skaam: “Ek sal hierdie een vat. En … ek is nie mevrou nie.”

“Wat gaan aan met jou, Santie!” skree haar ma weer. Sy weet self nie. Sy staan nou al hoe lank en gesels met hierdie man, maar voel geen tekens van swangerskap nie. Sy voel net ‘n kriewel in haar maag en haar bene voel effens lam. Dalk is dit die gevoel waarvan die meisies by die skool altyd van gepraat het as daar ‘n nuwe seun in die skool gekom het. Die man glimlag weer vir haar en stap toonbank toe. “Nou ja, um … mejuffrou. Hier is redelik baie vorms wat ons moet invul. Jy is seker baie besig. Ek sal dit vir u makliker maak. Sal u omgee as ek sommer na u woning toe kom vir al die administrasie? Dan hoef u nou nie heeltyd hier te staan nie.” En, sonder om eers te dink antwoord sy: “Natuurlik, wat van vanaand?” Hy stem ook in en kry al haar besonderhede. Dis asof haar ma se waarskuwings na al die jare net verdwyn het.

Terug in die Ford sit Santie en bewe. Dis die wonderlikste dag van haar lewe. Nie net kry sy ‘n selfoon nie, maar vir die eerste keer gaan daar ‘n mansmens in haar woonstel wees. Haar ma se stem is stil. Santie ry stadig weg. Vanaand gaan sy lank en baie praat …

© Gerda Niemann

Reinette (1904), deur Theo van Doesburg

Reinette (1904), deur Theo van Doesburg




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Verhale
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Verhale
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Verhale
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Verhale
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Verhale
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Stroomop nou op DVD | Roekeloos
2018-11-10 08:00:33
[…] opwindende avontuurverhaal, Stroomop (Ivan Botha se regisseursdebuut) wat deur 116 999 kyk...
Oesjaar | Roekeloos
2018-11-08 08:23:33
[…] Leeuspruit (2002), Diepverlange (2007), Onderweg (2011), Ligjare (2013), Doep Is Nie Dood ...
Bloed, dunner as water | Roekeloos
2018-11-07 13:58:12
[…] word familiebande so totaal verbreek? Joernalis Charné Kemp, topverkoperskrywer van...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.