deur Haydee Hollander

Sy het twee eggenotes en haar enigste kind koelbloedig vermoor. Sy is Daisy de Melker, die tweede vrou in Suid-Afrika wat gehang is weens moord.

Sewentig jaar later doen bewerings steeds die rondte van De Melker se ‘teenwoordigheid’ in Johannesburg, en spesifiek saal 7 van die Transvaalse Kinderhospitaal (nou genoem die Florence Transition Home) in Braamfontein. Dit is hier, so word geglo, dat De Melker haar kennis van gif en spesifiek strignien opgedoen het.

In 1998 het Susan Coetzer die rol van Daisy vertolk in ´n reeks van vier aflewerings oor die lewe en motiewe agter die reeks moorde deur Daisy de Melker.

Hoekom het sy gemoor? Versekerings-uitbetalings word as hoofmotief genoem: Daisy sou by die £1 795 ontvang het na die afsterwe van haar eerste man, William Cowle, met wie sy vir 14 jaar getroud was. Hulle het vyf kinders gehad waarvan vier oorlede is. Met die afsterwe van eggenoot no. 2, Robert Sproat, het Daisy ´n aardige som van £4 560 ontvang. Hulle was skaars 18 maande getroud.

Allerlei vrae het ontstaan rondom die motief vir die moord op haar seun want sy dood het geen noemenswaardige finansiële voordeel vir haar ingehou nie. Daar word gespekuleer dat Daisy erfgeld sou ontvang met sy mondigwording. Hy was twintig toe hy oorlede is.

Vir die moord op haar seun het Daisy probeer om alle leidrade te wis. Sy is na ´n apteek in die suide van Turffontein om arseen te koop. Die gif is onder haar tweede man se naam gekoop en sou as middel dien om ´n siek kat uit sy lyding te sit. Maar sy het die gif in sy fles koffie gegooi.

Rhodes het vyf dae gely voor hy dood is. ´n Post Mortem het getoon hy is dood aan serebrale malaria. Die uitbetaling was ´n skamele £100.

Die broer van haar tweede man het hom tot die polisie gewend na die afsterwe van Rhodes waarna al drie liggame opgegrawe is vir verdere ondersoek. Hoewel die liggame van Cowle en Sproat feitlik ontbind was, is tekens van strignien in beide liggame se beenweefsel gevind. Beide se skelet het ook ´n pienk kleur gehad, nog bewys van strignien. Rhodes se liggaam het tekens van arseen getoon, veral in sy hare en ruggraat. Sy liggaam het goed bewaar gebly, ´n teken van arseen in groot dosisse.

De Melker is ´n week later gearresteer en na die Fort geneem waar sy aangekla is van moord. Na die storie die koerante gehaal het, het die apteker haar foto herken en onmiddellik die polisie gekontak.

Daisy se verhoor het 30 dae geduur. Die Regter het bevind dat die Staat onbevoeg was om bo alle redelike twyfel te bewys dat haar mans aan strignien gesterf het, maar het bevestig dat Rhodes aan arseenvergiftiging dood is.

Na ´n sensasionele verhoor, is De Melcker, toe 46 jaar oud in Pretoria Sentrale Gevangenis gehang op 30 Desember 1932.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply