Op 7 Julie 1501 vind die Portugese seevaarder Joas da Nova briewe en dokumente in ’n skoen wat hang aan ’n groot melkhoutboom in vandag se Mosselbaai.
Die dokumente is daar geplaas in 1500 deur ’n bevelvoerder van een van die bote van Pedro Alvares Gabral se vloot. Die Portugese het om die suidpunt van Afrika begin vaar nadat Bartholomeu Dias en Vasco da Gama dit gedoen het.
Die melkhoutboom is dus die oudste “poskantoor” in Suid-Afrika. Die boom staan vandag nog en is meer as ’n duisend jaar oud.
’n Posbus in die vorm van ’n skoen is naby die boom opgerig. Jy kan iets hier pos, wat dan ’n spesiale stempel kry.
In 1963 is die Dias Museum op die terrein opgerig – voorheen die Poskantoor Boom Museum. Vir die Dias Fees van 1988 is ’n lewensgrootte replika van Dias se karveel in Portugal gebou en met Dias se seeroete na Mosselbaai gevaar. Die karveel is in Mosselbaai uit die water gelig en in die museum geplaas.
Vandag fokus die museum op die Portugese seevaarders se geskiedenis vanaf 1488 asook die vroeë Engelse en Hollandse seevaarders, asook Mosselbaai en omgewing se geskiedenis. Die poskantoorboom/posboom is steeds ’n groot aantrekkingskrag vir besoekers.
Lewer kommentaar