Hier’s ’n toets vir Afrikaans-sprekendes daar buite: wat is vinniger… om “lugversorgingstelsel” te sê, of om dieselfde navraag letter-vir-letter te tik?
Stem was nog altyd die natuurlikste manier om met ’n foon om te gaan – om te praat, is tipies vinniger en makliker as om te tik. Nou kan jy Afrikaans met jou foon praat te danke aan Google Stemsoek wat nou dié funksie in Suid-Afrikaanse Engels, Zoeloe en Afrikaans beskikbaar het.
Let daarop dat dié nuwe taalmodelle vir aksente vanuit Suid-Afrika ontwerp is. As jy een van dié tale met ’n ander aksent praat (byvoorbeeld, met ’n Britse of Amerikaanse aksent wanneer jy Engels gebruik), sal Stemsoek dalk nie so goed vir jou werk nie.
Helpers is gebruik om populêre navrae in hul moedertaal in ’n verskeidenheid akoestiese toestande soos in restaurante, buite op besige strate en binne-in motors uit te lees. Google konstrueer ook vir elke taal ’n woordeskat van meer as een miljoen herkenbare woorde.
Hoe jy begin om Google Stemsoek te gebruik, hang af van watter tipe foon jy het. As jou foon Android 2.1 of ’n jonger weergawe gebruik, en as jy die “Quick Search”-blokkie geïnstalleer het, hoef jy bloot op die mikrofoon-ikoon te tik om ’n stemgedrewe soektog te begin. iPhone- en BlackBerry-gebruikers wat reeds Google Mobile App geïnstalleer het, kan stemsoek in werking stel deur die nuwe tale vanaf die instellingspaneel binne die app te kies.
As jy Android 2.1 of 2.2 het en jy het reeds die stemsoek-toepassing geïnstalleer, sal stemsoek resultate vir Suid-Afrikaanse Engels, Zoeloe en Afrikaans lewer as jy op jou foon een van daardie tale uit die instellings vir taal en sleutelbord gekies het. As jy nie die stemsoek-toepassing het nie, kan jy dit vanaf Android Market op jou foon installeer – soek vir ‘voice search’. Hierdie toepassing is slegs beskikbaar in die Android Markets vir Suid-Afrika.
Om Google Mobile App vir iPhone te kry, soek vir ‘Google Mobile App’ in die App Store of volg hierdie skakel. BlackBerry- en Nokia-gebruikers moet m.google.com besoek deur hul fone se blaaiers te gebruik.
Vind meer uit by mobile.google.com en kies Suid-Afrika uit die voetreël.
[via Google Africa Blog]
