Brolloks en Bittergal

 

Hierdie klassieke werk van C. J. Langenhoven is verwerk deur Leon Rousseau, in eie reg ’n bekende en
bekroonde skrywer. Die verwerking konsentreer op die twee ou skelms, Brolloks en Bittergal, lekker bangmaak-karakters, wat vir baie geslagte heen kinders se tone laat omkrul het van vrees en bewing.

Maar eintlik is hulle twee dommies, en word elke keer uitoorlê deur hulle “slagoffers” wat vernuftig
deur verskeie diere gehelp word om uit dié twee se kloue te ontsnap. Dit stories speel af in die Karoo
en het die tipiese afmosfeer van die tyd en plek – en tussen die lyne is dit eintlik ’n humoristiese
verhaal van twee mensvreters wat net nie die mas opkom nie.

Cornelis Jacob Langenhoven is op 12 Augustus 1873 op Hoeko naby Ladismith in die Wes-Kaap gebore. Hy
het in 1895 ’n BA-graad en in 1899 ’n LLB-graad aan die Victoria-kollege op Stellenbosch verwerf. Hy
het kort daarna ’n prokureurspraktryk op Oudtshoorn begin, en in 1912 word hy die redakteur van die
plaaslike koerant, Het Zuid-Westen. Langenhoven raak daarna by die politiek betrokke en is in 1914 tot die Kaaplandse Provinsiale Raad en in 1920 tot Volksraadslid vir Oudtshoorn verkies. Hy het vir meer as 10 jaar die rubriek, Aan stille waters, in Die Burger waargeneem wat onder die naam “Sagmoedige Neelsie” verskyn het.

Sy eerste publikasie, Stukkies en brokkies, het in 1911 verskyn. Hy het daarna verskeie boeke soos Sonde met die bure, Loeloeraai, Brolloks en Bittergal en Donker spore geskryf. Laasgenoemde wat in 1926 verskyn het, word beskou as die eerste speurroman in Afrikaans.

In 1927 is die Hertzogprys vir prosa aan hom toegeken vir sy boek Skaduwees van Nasaret, maar hy het geweier om dit te aanvaar. Hy het blykbaar nie daarvan gehou dat hy dit moes deel met Jochem van Bruggen en Sangiro nie. Hy het sy 25 pond prysgeld aan die Akademie teruggestuur.

Langenhoven het ’n denkbeeldige olifant, Herrie, besit wat in baie van sy stories verskyn het. Hy het
in 1929 Herrie se naam op ’n klip in Meiringspoort gekerf. Dié klip is sedert 1971 ook ’n nasionale
gedenkwaardigheid.

C.J. Langenhoven is op 15 Julie 1932 in sy huis Arbeidsgenot op Oudtshoorn oorlede. Hy is vandag steeds bekend vir sy gesegdes en sy spreuke is gewilde aanhalings. Langenhoven se Versamelde Werke het eers in 14 volumes verskyn en later in 16 volumes (1949).

Na die dood van sy vrou, “Vroutjie” soos hy haar genoem het, is hul huis, Arbeidsgenot, in April 1955
amptelik as museum vir die publiek oopgestel. Dit is sedert 1987 ’n nasionale gedenkwaardigheid.

Lys van publikasies
Prosa
1911 Stukkies en brokkies
1913 Ons weg deur die wêreld Deel I
1921 Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika
1921 Sonde met die bure (roman)
1922 Doppers en Filistyne (roman)
1922 Ons weg deur die wêreld Deel II
1923 Ons weg deur die wêreld Deel III
1923 Loeloeraai (wetenskapfiksie)
1924 Die lig van verre dae (avontuurroman)
1924 Geeste op aarde (spookverhale)
1925 Herrie op die óú treinspóór (roman)
1926 Donker spore (speurroman)
1927 Skaduwees van Nasaret
1930 Die wandelende geraamte (speurverhale)
1932 U Dienswillige Dienaar (outobiografie)

Rubrieke
1930 Aan stille waters I
1941 Aan stille waters II

Drama
1909 Die familiesaak en Die troubelofte
1913 Die Hoop van Suid-Afrika
1919 Die onmoontlike tweeling
1918 Die Vrou van Suid-Afrika
1925 Die laaste van die takhare
1927 Die kinderparlement

Brolloks en Bittergal 

Brolloks en Bittergal

Kinderboeke
1925 Brolloks en Bittergal
1926 Die Krismiskinders
1926 Mof en sy mense

Koop / Buy Brolloks en Bittergal

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. ek is opsoek na die boek Brolloks en Bittergal, waar kan ek dit koop? Baie baie dankie

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar