Byna liefde

Byna liefde, kortverhale op die snykant van die liefde, dit is Izak de Vries se jongste bundel. Wesenlik gaan hierdie verhale oor twee kompulsies: die liefde en skryf oor die liefde. In ‘n sekere sin gaan dit oor die soeke na die volmaakte liefdesverhaal – op papier sowel as in die lewe.

In die manier waarop Izak de Vries die twee soekes vermeng, bring hy iets heeltemal in voeling met die tydsgees tot stand: vuurwarm, uitdagend, maar heeltyd soekend en speurend na die voorwaardes waarop nie net begeer word nie, maar ook waarop skrywend begeer word.

Dit is verhale waarin klomp verborgenhede eksplisiet gemaak word: seks, buitensporige seks, en allerhande nuwe maniere waarop na seksuele vervulling gesoek word. En dan sien jy telkens ook hoe ‘n skrywer se begeerte na sy karakters se begeerte eksplisiet gemaak word, hoe ‘n skrywer en/of kunstenaar deur sy eie begeertes gelei en verlei word … totdat sy eie karakters terugpraat, die objekte van sy begeerte beswaar maak teen sy al te gemaklike manlike fantasieë.

Kitsliefde oor die internet, ongebreidelde begeerte, oop verhoudings … bevredig dit die mens se soek na die liefde? Begeerte, wys Izak de Vries, bly lewend deur die onvervulbaarheid daarvan. Die liefde bly daarom, soos skryfwerk oor die liefde, altyd net dit: byna liefde.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar