Die feesmaal

Die huis slaan my asem weg. Dis tydskrif mooi. Regte bome vol fyn, wit liggies in die yslike ingangsportaal. Fonteine en watervalle. Poele vol lewendige visse. Lyk soos ‘n plek uit Top Billing. “Grand,” sou my vriendin met omgedopte oë gesê het.

poel bome fonteinNog gaste daag op. Lyk of almal mekaar ken. Hulle beweeg na die beligte glastrappe. “Nee asseblief, loop jy voor,” dring ek aan toe ek myself voor in die tou betrap. Ek lig my rok effens sodat ek nie op my hoë hakke by die trappe aftuimel nie. Op die laaste trap waag ek dit om vir die eerste keer op te kyk. Bloubergstrand lê uitgestrek, lui en tevrede, reg voor ons. Lyk of die kristalhelder swembad oor die balkon tot reg in die see vloei.

“Welkom almal, asseblief, maak julleself tuis!” Die gasheer stel my voor. Ek probeer mense se name onthou. Daar is tien van ons, tel ek vinnig.

Hier sit ons nou. Weggesak in ontwerpersbanke. Alles in skakerings van bruin. Spatsels goud. Haarlose, pienk katte vol rimpels sit soos ornamente oral oor die plek. Drankies word aangebied. Ek neem ‘n glas rooiwyn. Seker duur wyn, maar bokswyn sou ook lekker geproe het in fyn kristalglase met goue stele. Diamanté al om die bodem.

Daar word land en sand gebabbel. Oor koeitjies en kalfies. Sport en politiek. “Nou hoe ken jy die Van Tonders?” “Waar woon jy?” “Wat doen jy vir ‘n lewe?” word ek met vrae oorval.

‘n Man in sjefklere dra ‘n bordjie versnaperings op die palm van sy hand. Beweeg tussen die gaste. “Mmmm,” dis my beurt. Baba vol-au-vents gevul met ‘n garnaal in ‘n knoffelsousie. Stukkie avokadopeer. Peper. Lekker. Hy verdwyn en kom nie terug nie. Dis seker ordentlik om so min te pik, dink ek. Seker ‘n oordadige ete wat wag.

Drankies vloei. Ek slaan oor na Coke. Moet vanaand nog ver huis toe ry. En ek is rasend honger. Het myself vandag uitgehonger vir die deftige ete. Die geur van vleis dwarrel die trappe op. Dalk lamsboud of gebraaide vark. Dalk albei.

Die gasheer maak nog bottels wyn oop. “Moet darem ‘n bietjie wyn drink voor ons eet, of hoe?” So dis heelwat later wanneer ons gevra word om na die eetkamer deur te stap.

Ons sit aan om ‘n groot glasblad-tafel gebou op houtstompe vol flikkerende liggies. Ligbruin lapservette met goue spatsels. Goue eetgerei … Ek is in feetjieland … Die man in sjefklere dra die maaltyd in. Balanseer ‘n bord op elke palm. Plaas dit direk op die tafel. Gebakte hoenderstukke. ‘n Bakkie gebraaide aartappels. Hy kom weer. Bring ‘n kleiner bakkie vol ertjies en ‘n groot bak groenslaai. Meestal blare. Van die fancy soort.

Vol verwagting wag ek op die volgende dis. “Skep asseblief voor die kos koud word.” Ek tel gou die hoenderstukkies. Tien stukkies vir tien mense. Twaalf aartappelstukke.

Ek skep my stukkie hoender. Een aartappeltjie. Vat so tien ertjies. Maak my bord vol met blare. Die man langs my vat twee stukke hoender. Kan hy dan nie tel nie?

Ons eet. Die vrou op die punt van die tafel sit haar mes en vurk hard neer. “Ek kan onmoontlik nie hierdie groot bord kos opeet nie. Is nou so versadig. Dankie, dit was heerlik!” Wens ek kan die onaangeraakte hoenderboudjie op ‘n manier op my bord toor. “Nog ‘n glasie wyn?” vra sy die gasheer. “Ek het nie nagereg gemaak nie. Mense eet mos deesdae nie meer soetgoed nie?” verkondig die gasvrou. Wonder hoekom hulle almal dan so dik is.

“Eet nog ‘n bietjie?” vra die gasvrou my. Sy sien seker die honger in my oë. Skamerig sny ek die orige aartappel in blokkies. Neem ek ‘n stukkie. En nog ses ertjies. Ek vind een olyf tussen die blare.

Die man met die twee hoenderstukke probeer met my kop smokkel. Het dwalende oë en orige hande. Sy vrou sit oorkant die tafel. Sy dink sy speel voetjie-voetjie met haar man. Of dalk met die man aan my linkerkant. Ek skop my voete vorentoe en agtertoe. Haar lang toonnaels krap my bene.

Terug in die kuierkamer besluit een van die mans dis tyd om af te koel. Raak hy ontslae van sy klere en spring kaalbas in die swembad. Die ander mans volg. Hulle duik in. Van die vrouens begin ontklee. Klim met hulle onderklere en heupbewegings in die swembad af. Sit hulle op die trappie. Spat hulleself nat. Giggel. “Kom, die water is heerlik!” nooi hulle my.


“Ek kom!” lieg ek. Ek loop die gang af. Soek ‘n badkamer. Probeer elke deur. Vind dit. “Sjoe, dis mooi,” praat ek met myself. Natuurlik ‘n glas-bad op houtstompe. En liggies. “Wow,” die toilet spoel vanself. Kyk ek na myself in die lang spieël. Ek lyk verward. Honger.

“Kom join my!” roep die man wat vroeër my lyf probeer verken het, met my terugkeer. Almal is in die swembad. Glas in die hand … Dié aand, besef ek, het so pas begin …

“Ek kom!” lieg ek weer. Gryp ek onderlangs my handsak en sleutels. “Waar gaan jy?” hoor ek terwyl ek die glas trappe afseil. “Iets in die kar vergeet!” Ek lig my rok seker hoër as wat ek hoef, sodat ek nie op my hoë hakke by die trappe aftuimel nie. Sien ek in die hoek van my oog die arme visse, vasgevang in die damme. Sukkel ek om die deftige voordeur oop te sluit.

Buite hardloop ek na my kar. Ry ek nog voor my deur toe is. “Nee … ja, ek moet hier wegkom,” baklei ek hardop met myself. Is net seker nou vreeslik onbeskof. Sal môre bel om dankie te sê vir ‘n heerlike aand. Sal sê my maag was seer. Te veel geëet. “Nee, sal eerder SMS,” beplan ek sonder enige gewete.

In die vêrte skyn daar ligte. Van nader sien ek die Steers-bordjie. Dit wink uitlokkend. Sonder om te veel te dink, ry ek in en bestel ‘n hamburger. En skyfies. Sit sommer hier in die kar en smul. Is ek reg binne-in die Hemel … Dís nou ‘n feesmaal … Die sous drup op my rok. Dit maak nie saak nie. Môre se bekommernis.

Met ‘n blink mond trek ek my kar in die motorhuis. Klim ek die trappe op na my veilige woonplek. Die katte is bly om my te sien. Krul om my bene. Ek gee vir hulle elkeen ‘n bak kos.
Ek borsel tande. Trek self die toilet. Glip in ‘n T-hemp en sit die ligte af. Die katte klim op. Maak hulleself om my gemaklik. Ek vryf hulle lyfies. Is bly hulle het hare.

“Sjoe!” sug ek met ‘n glimlag. Simba lig nuuskierig sy kop. “Ja,” vertel ek hom. “Die honger sal die res van hulle later slaan. Ek is doodseker hulle gaan ook skelm êrens eet.”
Simba kry die kat aan die stert beet. Hy spring af. Nou lê ek in die donker en luister na die gekraak van katkoekies … Tel ek my seëninge.

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

  1. Mooi opbou na rustige alombekende slot. Knap gedaan. Lekker gelees.

  2. Baie goed. Ek wonder hoeveel het al na so ‘n fancy ete by Steers of McD aangeklop?

Lewer kommentaar

Leave a Reply to nadia linklater Cancel reply