Die bekroonde akteur, entrepreneur en skrywer Hykie Berg se nuutste boek, Geroep vir meer – Hoe om suksesvol te leef, is eersdaags beskikbaar.

Die boek is geïnspireer deur alles wat Hykie – wat sonder skaamte sy stormagtige geskiedenis met mense deel – die afgelope twee dekades oor die konsep van sukses geleer het en hoe om dit te bereik.

“Die dag toe ek besluit het om persoonlike verantwoordelikheid vir my hele lewe te neem was die dag wat my lewe verander het. Ek het besef ek is nie meer ’n slagoffer en magteloos nie, maar dat ek die vermoë het om my lewe te kies en my eie toekoms te bou. Net só het elke mens daardie vermoë,” verduidelik hy. “Ons is nie slagoffers van ons omstandighede nie, ons is die argiktekte daarvan.”

“Ons is nie vasgevang nie, ons moet net ons mentaliteit en perspektief oor die lewe verander. Elkeen van ons is geroep vir meer as wat ons besef of dink. Almal sukkel met beperkende gedagtes, maar jy is waar jy is as gevolg van die storie wat jy jouself vertel. As jy die storie verander, sal jou lewe ook verander. Jy is nie “stuck” nie.

Volgens Berg is Geroep vir meer – Hoe om suksesvol te leef geskryf vir dié “wat bereid is om uiteindelik ’n kans te waag, God met totale toewyding te vertrou en in geloof die rigting van hul lewenskoers te verander. Dit is geskryf vir elkeen wat weer hoop wil hê en werklik suksesvol wil lewe. Dis vir diegene wat bereid is om aksie te neem, uit hul gemaksone te tree en hul vrese in die gesig te staar.”

Hy brei uit: “Hierdie boek handel oor die beginsels van ’n suksesvolle en betekenisvolle lewe, die droom wat God oor jou lewe het en die persoonlike verantwoordelikheid wat elkeen van ons aan die dag moet lê om deel te kan hê in die wonderwerk proses van die lewe. Die boek het die potensiaal om jou lewe te verander, indien jy bereid is om die beginsels wat ek bespreek toe te pas. God is lief vir jou en wil hê jy moet floreer, vrug dra, en bo alles sy vrede en liefde ervaar. Die boek handel oor hoe om jou beloofde land in te neem.

“Ongeag jou omstandighede, jou verlede, of die uitdagings wat jy in die gesig staar, wil God jou uitnooi om saam met Hom ’n pad te stap, sodat Hy Homself aan jou kan openbaar en Sy geheime oor jou lewe aan die lig kan bring. Sy droom vir jou lewe is meer boeiend, belangwekkend en opwindend as enige droom wat jy self kan bedink, verbeel of voorstel. Jou wildste drome kom nie naby aan dit wat God vir jou beplan het nie,” vertel hierdie veelsydige man, wat sy Skepper in 2010 tydens die realiteitsprogram Survivor Maldives ontmoet het.

Hykie spreek gereeld gehore toe en is elke keer verstom hoe min mense werklik doelgerig lewe. “So baie mense het geen visie vir hul lewens nie en sal dus nooit hulle volle potensiaal bereik nie. Hulle weet nie wat hulle uit die lewe wil hê nie. Hulle weet nie waarheen hulle op pad is nie. Hulle het ophou droom en het geen doel, plan of eindbestemming nie. Maar daar is ’n beloofde land vir elkeen van ons, die droom wat God oor ons lewens het. Hy het vir elkeen van ons gawes, talente en verhoudinge gegee wat wag om ontgin te word. Elke mens het dus die vermoë om ’n veelvlakkige droom vir hul lewe te skep én dit ’n realiteit te maak.”

Hy voeg by: “God wil vir elkeen van ons Sy beste gee. Hy wil nie hê Sy kinders moet vergaan in skuld, armoede en ellende nie. Ek sê nie God wil hê almal moet miljoenêrs wees nie, maar Sy hart is dat dit goed gaan met elkeen van ons. God sal vir jou meer as genoeg gee om Sy droom oor jou lewe te laat realiseer, sodat jy jou opdrag hier op aarde kan uitvoer en ander ook kan help om hulle opdragte te voltooi.”

Geroep vir meer – Hoe om suksesvol te leef vorm deel van Hykie en sy vrou, Gerridene, se visie om in die volgende vyf jaar 100 nuwe miljoenêrs te skep en 100 gesinne weer saam te bring deur pa’s en ma’s toe te laat om die rotresies te ontsnap.

“Om ’n buitengewone impak te maak en ’n lewe van ware betekenis te lei, vat meer as net passie en verbeelding om tot vervulling te kom. Ek hoop dat my boek mense sal inspireer om weer te begin droom en opgewonde te raak oor die eindelose moontlikhede wat die lewe bied, om verantwoordelikheid te vat vir hul besluite, en om die krag te ontdek wat binne elkeen van ons lê om ’n impakvolle lewe te leef.”

Hykie was ook in 2010 die wenner Survivor Maldives. Sedertien het hy verskeie suksesvolle projekte aangepak en is vandag nie net ’n bekroonde akteur en TV-aanbieder nie, maar ook ’n internasionale spreker, ’n suksesvolle entrepreneur en ’n topverkoper-skrywer.

Sy vorige boeke sluit in die topverkoper boek My Storie van Hoop, Ultimate Survivor (die Engelse vertaling van My Storie van Hoop), wat met die Andrew Murray Desmond Tutu-prys bekroon is, en My Stryd met ADHD-Die Onsigbare Oorlog.

Hy is ook die ambassadeur van Creative Kidz, ’n skool wat remediërende onderwys en ondersteuning bied aan kinders met leeruitdagings.

Hykie en Gerridene is die trotse ouers van Leméh, asook hulle drie Schnauzers, Rupert, Cupcake en Rori. Hulle woon in Johannesburg.

hykie berg 2024
Hykie Berg

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply