#innibos Boekgesprek: Dana Snyman en Keina Swart

Dana Snyman is ’n skrywer van wat op die oog af lyk as die nietigste storie, maar wat ’n mens dan op die krop van die maag tref.

In die bloukamp is sowat 100 stories wat hy in Facebook se “blou kamp” laat wei het. Stories oor ’n koerantfoto van ’n skoolhoof in Khayelitsha wat weghardloop vir klipgooiende skoolkinders, Johnny April wat ’n zol met BB-tabak en koerantpapier vou, die stop-enry-vlagswaaier op die grootpad, donkiekarryers en lorriedrywers, vleispasteitjies en doodsberigte in die koerant . 

Keina Swart is ’n bekroonde koerantredakteur en kinderboekskrywer en van haar skryfwerk verskyn gereeld in Die Burger, Beeld, Rapport, Rooi Rose, Volksblad en Weg! Platteland. Haar bundel rubrieke Die Potlooddief se bruid en ander stories het in 2015 verskyn en is hoog aangeskryf.

In Koms van die Biblioteekbus, ’n nuwe versameling essays, kortverhale en rubrieke, skryf Keina oor die wêreld wat was en die wêreld wat is. Sy skryf oor wat Anton Goosen se musiek aan armymanne gedoen het, oor Eugène de Kock en oor AB de Villiers (sommer net ’n skaam blondekopkind wat 18 jaar gelede elke Dinsdag met ’n regop rug in sy kakieklere teen ’n baksteenmuur vir haar kamera geglimlag het). En oor wat gebeur as ’n dorp doodgaan.

Kom luister hoe dié twee skrywers gesels oor die alledaagse en hoe ’n storie gestalte kry.

Genre: Boeke
Taal: Afrikaans
Ouderdomsbeperking: Geen
Tydsduur: 1 uur
Kaartjies: Gratis (bespreek by 013 741 2551, slegs 100 plekke beskikbaar)
Plek: Stoep-restaurant, Sonpark, Nelspruit
Datum: Saterdag, 2 Julie, om 10:00

Innibos 2016

Boekgesprek: Dana Snyman en Keina Swart ,
Roekeloos,
20 Mei 2016.

2

Lewer kommentaar

Leave a Reply