Op 25 Maart 1647 strand ’n Nederlandse vragskip De Nieuwe Haerlem in die vlakwater in Tafelbaai. Dit was deel van ’n vloot wat die Olifant en die Schiedam ingesluit het. Aan boord is ’n waardevolle vrag wat speserye, tekstiel en Chinese porselein insluit. Hulle slaag daarin om die vrag af te laai en die kaptein beveel ’n junior offisier Leendert Janszen en 61 lede van die bemanning om agter te bly en die vrag op te pas, want dit was te veel vir die ander skepe.

Die groep bou vir hulle ’n klein fort, Zandenburch (sandkasteel) tussen die sandduine van hout van De Nieuwe Haerlem. Hulle vang vis in die Dieprivier, versamel pikkewyneiers en eet pikkewyne en duikers. Hulle dryf ook handel met die plaaslike Khoi-groepe vir vleis. Die seevaarders wag ’n jaar lank voor hulle kan terugkeer na Nederland.

Die Khoi het nie net handel gedryf in voedsel nie, maar het ook mediese dienste verskaf. Daar is getuienis dat negentien Franse matrose met ernstige beensweer binne veertien dae hier gesond gedokter is. Dit moes net voor of net na die aankoms van Janszen se groep gewees het.

Met hul terugkeer skryf Janszen ’n verslag oor die lewensvatbaarheid van ’n verversingstasie aan die Kaap. 26 Julie 1649 word Janszen se Remonstrantie voorgelê, ook onderteken deur nog ’n junior offisier Matthijs Proot. Dit is ten gunste van ’n verversingstasie aan die Kaap. Die plaaslike Khoi-groepe se vriendelike houding teenoor die vreemdelinge speel ’n groot rol in Janszen se oortuiging dat ’n vesting aan die Kaap ’n goeie idee is.  Kort daarna kry Jan van Riebeeck opdrag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie om die handel- en verversingstasie te gaan bou. Matthijs Proot was die kompanjie se eerste keuse . Hy het dit van die hand gewys en Van Riebeeck het aangebied om te gaan. Van Riebeeck het sy eie kommentaar op die Remonstrantie voorgelê in Junie 1651 getiteld Nader Consideratie, waarin hy die lewensvatbaarheid van so ’n vesting ondersteun. Van Riebeeck was deel van die vloot onder bevel van Wollebrandt Geleynsz de Jongh wat Janszen se groep opgetel het in die Kaap. Daar word al jare gesoek na De Nieuwe Haerlem se wrak. Daar word vermoed dat die skip naby Rietvlei gestrand het – dit is aan Bloubergstrand se kant van Tafelbaai. Kenners is oortuig dat die vragskip se wrak uitgeken kan word. Behalwe die ligging is daar die feit dat die romp nie met koperplate toegerus is soos meeste skepe van daai tyd nie. Die onbetwisbare bewys sal die ontdekking van die 19 kanonne en vier ankers wees wat in die ruim agtergebly het.

De Nieuwe Haerlem sink in Tafelbaai. (Camissa Museum)

Bronne:

Blaauwberg Online. 2014. Shipwrecks of the Blaauwberg Coastline. http://www.blaauwberg.net/history/shipwrecks.php (besoek 3 Augustus 2021)

Sienaert-van Reenen, M. 1989. Die Franse bydrae tot Africana-literatuur, 1622-1902. Kaapstad: Human & Rousseau.

South African History Online. 2014. The Dutch Indiaman, the Nieuwe Haerlem, is wrecked in a storm in Table Bay. https://www.sahistory.org.za/dated-event/dutch-indiaman-nieuwe-haerlem-wrecked-storm-table-bay (besoek 3 Augustus 2021)

Werz, BEJS, Steenkamp, WHB, Prowse, MR. 2017. Searching for a symbolic shipwreck in Table Bay:Haarlem (1647). Pretoria: South African Journal of Science.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply