Vergete slagoffers van die Bosoorlog
Wanneer ’n pas afgestudeerde dokter nie langer sy nasionale diensplig kan ontduik nie, word hy opgeslurp in die Grensoorlog. ’n Onwillige Anthony Feinstein word ingedeel by die weermag se psigiatriese eenheid al het hy net enkele weke se opleiding in dié veld.
Hy begin by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria waar sy dae gevul is met psigose: hy behandel seuns wat met die hemelliggame praat of dink hulle is Jesus, en dan is daar natuurlik die jong mans wat teruggestuur word van die Grens. In een geval verloor ’n soldaat die vermoë om te praat nadat hy in ’n bloedige hinderlaag betrokke is en sy vriend enkele meters van hom af doodbloei.
Feinstein bevind hom uiteindelik onwillekeurig in Oshakati, die grootste militêre basis in die oorlogsone. Hier is hy veronderstel om troepe vir post-traumatiese stressindroom te toets, maar die wêreld wat hy betree is ook een van alkoholisme, slaaploosheid, gesinsgeweld en geslagsiektes.
Die sielkundige gevolge van die oorlog slaan uit in die vreemdste kwale. Skokkende verhale word nie net deur die dienspligtiges nie, maar ook deur die vroue van voltydse soldate aan hom vertel. Tydens ’n dienstydperk by ’n afgeleë Koevoet-basis beleef Feinstein ’n uiters skokkende insident van wreedheid — en die uitwerking daarvan op die soldate se psiges.

Sy openhartige verhaal werp lig op ’n aspek van die oorlog waaroor selde gepraat word. Duisende gewese soldate loop steeds rond met die onsigbare wonde, en sal aanklank vind by hierdie reguit en eerlike ware verhaal, ’n verhaal wat enige leser ruk.
Skrywer: Anthony Feinstein
ISBN: 9780624052876
Prys: ongeveer R 170.00
Formaat: Sagteband, 208pp
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
Goeie dag
Is die boek nog beskikbaar.
Dankie.
Casper
Daar is nog ‘n Kindle weergawe by https://www.amazon.com/Kopwond-Afrikaans-Anthony-Feinstein-ebook/dp/B08NV3DMKH/ref=sr_1_1?crid=317IUDLR0IIR5&keywords=kopwond&qid=1699528639&sprefix=kopwond%2Caps%2C278&sr=8-1