Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Meer as tien jaar gelede, toe Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie die boekwinkels geslaan het, is dit geloof as ´n tour de force. En vir dié wat die gebeurtenis destyds misgeloop het, is daar nou weer ´n nuwe uitgawe van die bekroonde roman wat destyds ´n verfrissende, ontstellende eerlikheid in die Afrikaanse letterkunde meegebring het. Wat het ´n mooi Afrikanervrou gedoen in die vyftigerjare as die lewe begin druk? As haar man ´n verbitterde Ben Schoeman-man is wat moet aansukkel met ´n asmapompie en haar pa ´n Kommunis en Katoliek agter elke bos raaksien? As die enigste afleiding die jaarlikse ATKV-konsert op Hartenbos is? Veral as haar doodgoeie bure skielik aangesê word om te trek?
Deur die oë van ´n kind vertel Jeanne Goosen hoe Doris van Greunen van dié wêreld probeer ontsnap: in die bioskoop, met haar Cavallas, met vriende soos Ant Mavis, Uncle Tank – en met Barnie, die swank. Dié merkwaardige werkersklasroman waarmee Jeanne Goosen haarself as volkskrywer in Afrikaans gevestig het is bekroon met die M-Net Boekprys, die CNA-prys, én die Rapportprys.
Joan Hambidge sê in Beeld: “Briljant … Daar is min tekste wat die ontstaan van stereotipes, vooroordele en die soeke na geluk so ontmasker as Goosen se eerste roman. Die teks word ´n toespeling op die hier-en-nou, hoewel dit afspeel in die Parow van die jare vyftig. … Dis ´n vermaaklike boek vir almal. Terselfdertyd is dit ook ´n onstellende boek as ´n mens die destruktiewe patrone uitlig. Neem liefs ´n drienk as jy dit lees.”
En André P Brink se oordeel in De Kat is: “Dis ´n verskiklike skoon kyk, dwarsdeur al die tekens wat ´n mens se alledaagse werklikheid konstitueer, tot in die hemel en hel daaragter … Die leser kan partykeer begin huil van die lag, of lag van die huil. Maar wat jou gryp, wat jou nie laat los nie, is die oopskryf van onsigbare kompleksiteite in die eenvoudigste episodes. Ons is nie almal so nie is ´n kragtoer. Genotvol tot in die vesels; en met die beheersing van ´n meester.”
Die uitgewer Kwela Boeke sê Jeanne Goosen is een van die mees veelsydige en mees omstrede skrywers in Afrikaans. Sy debuteer as digter met ´n Uil vlieg weg (1971), opgevolg deur Orrelpunte (1975). Ook as dramaturg druk sy haar stempel af met hoogs suksesvolle eenakters en kabarettekste, Drie eenakters (1992). Maar dis veral as prosaskrywer dat sy vir haarself ´n prominente plek in die Afrikaanse letterkunde oopskryf met die publikasie van Om ´n mens na te boots (1975), ´n Kat in die sak (1986), Louoond (1987), Ons is nie almal so nie (1990), o.a. Daantjie Dromer (1993) en die kortverhaalbundel ´n Gelyke kans (1995).
Goosen se werk word telkens gekenmerk deur vernuwing en sy is veral bekend vir haar heerlike sin vir ironie in die uitbeelding van die dikwels onsmaaklike werklikheid. So verwerf sy ´n ereplek in die Afrikaanse prosatradisie.
[bookpreviewer idtype=”ISBN” bookid=”9780795703584″ previewer=”embedded”]
