Fugard op die silwerdoek

Daar is reeds in Kaapstad begin met die verfilming van Athol Fugard se klassieke toneelstuk Master Harold and the Boys.

Die hoofrol word vertolk deur Ving Rhames, ‘n bekende gesig in films soos Casualties of War (1989), Jacob’s Ladder (1990), Pulp Fiction (1994), Mission: Impossible (1996), Con Air (1997), Mission: Impossible II (2000) en Mission: Impossible III (2006). In 1997 het hy die Golden Globe-toekenning ontvang vir Don King: Only in America vir die beste akteur in ‘n TV-reeks / film wat vir TV vervaardig is. Tydens die seremonie het Rhames vir Jack Lemmon op die verhoog geroep en sy toekenning aan hom opgedra.

Master Harold and the Boys speel af in Suid-Afrika in die 50’s en ondersoek die verhouding tussen ‘n 17-jarige wit seun, Harold, en twee swart mans, Sam en Willie, wat vir sy pa werk in Port Elizabeth.

Athol Fugard het die toneelstuk in 1982 geskryf en verskeie internasionale toekennings ontvang daarvoor. Dit was destyds verban in Suid-Afrika en is vir die eerste keer in New York se bekende Lyceum-teater opgevoer. Die hoofrol is destyds vertolk deur Danny Glover. Die ander twee akteurs was Zakes Mokae en Lonny Price. Dieselfde Lonny Price is die regisseur van hierdie rolprent.

Master Harold and the Boys word na verwagting teen die einde van 2010 uitgereik.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar