The Curious Case of Benjamin Button

 

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Met: Brad Pitt, Cate Blanchett & Julia Ormond
Regisseur: David Fincher

The Curious Case of Benjamin Button is die storie van ‘n man wat oud gebore word en dan jonger word tot die dag wat hy as ‘n baba sterf.

As jy gehou het van Forrest Gump (1994) dan gaan jy ook hierdie fliek geniet. Dit is wonderlik hoe die twee films dieselfde gevoel oordra. Ene Eric Roth was vir beide rolprentweergawes verantwoordelik. Dit is duidelik dat ons hier te make het met Roth se storie, eerder as F. Scott Fitzgerald se oorspronklike kortverhaal.

Net soos Forest is Benjamin nie jou konvensionele held nie en iemand wie se unieke uitkyk op die lewe veroorsaak word deur die ongewone omstandighede waarin hy grootword en die mense wat hom op sy pad lei. Op ‘n stadium is hy ook op ‘n boot, nes Forest. Benjamin raak ook op ‘n vrou verlief wat nie juis in sy klas val nie.

The Curious Case of Benjamin ButtonAnders as Forest Gump fokus The Curious Case of Benjamin Button op Benjamin (Brad Pitt) se liefde vir Daisy (Cate Blanchett). Die film is ‘n tragiese liefdesverhaal met ‘n karakter uit die wetenskapfiksie. Die temas van oud word en die lewe word net liggies aangeraak. Die feit dat die hoofkarakter jonger en wyser word, word net behandel as ‘n hindernis in die pad van die liefde. Oudergewoonte is die vrou ook net die objek vir iemand se liefde.

Mens kry die indruk dat die film probeer voorgee om meer te wees as wat dit werklik is, maar mens moet erken dat dit tog ‘n lig skyn op die wreedheid van die noodlot.

Tegnies is die film uitstekend en regisseur David Fincher skep die perfekte atmosfeer met fyn uitgewerkte skote. Brad Pitt en Cate Blanchett doen beide uitstekende werk.

Hoewel The Curious Case of Benjamin Button aanvanklik soveel meer beloof as wat dit werklik is, bly dit ‘n genotvolle ervaring.

7/10

bydrae: Sarie

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply