Roekeloos
Kyk mens genoeg Skandinawiese flieks en teater kom jy maklik tot die slotsom dat hulle ’n verworde klomp etters is.
Nie dat ons kan vinger wys nie – wie het op stuk van sake Die Antwoord op die wêreld losgelaat.
Of dalk moet ek hou by hoofstroom vermaak.
Teen die tyd weet meeste van julle van Stieg Larsson se boeke, sy Millenium-trilogie, waarvan The Girl with the Dragon Tattoo die eerste boek is. Die tipe blitsverkopers was nog nooit my ding nie, maar wie kan nou ’n Sweedse film weerstaan.
The Girl with the Dragon Tattoo laat jou terugverlang na die dae van TV se Derrick. Dit voel op ’n manier soos iets van ouds en gee die wrede moorde en verkragtingstonele ekstra trefkrag.
Tussendeur word jy meegevoer deur die storie van ’n joernalis wat ’n ou, onopgeloste misdaad ondersoek. Die joernalis Mikael Blomkvist (Michael Nyqvist) word deur ’n afgetrede sakeman gevra om die verdwyning en die klaarblyklike moord van sy gunsteling niggie meer as veertig jaar gelede te ondersoek. Die vlieg in die salf is ’n jong hacker, Lisbeth Salander (Noomi Rapace). Lisbeth sorg vir plofbare tonele en verdiep die intrige.
Die oorspronklike Sweedse titel, Män som hatar kvinnor (Mans wat vroue haat), gee meer weg oor die storie en gee die kyker dalk ’n beter idee oor uit watter hoek hulle die film behoort te benader. Daar is verskriklike tonele, maar dit buit nie die sentrale onderwerp uit nie. Al negatiewe kommentaar wat ek het, is dat regisseur Niels Arden Oplev se finale inmekaarskuif van die legkaart ietwat onbeholpe voorkom en die film onnodig laat struikel.

Wat hierdie reeks film ook gedoen het, is om die aandag te vestig op ’n merkwaardige aktrise Noomi Rapace wat die rol van Larsson se Lisbeth Salander vertolk. Sy kom permanent moerig voor en haar gedagtes is op ’n plek wat mense met tieners te goed ken. Om nie eens te praat van die donker kolke waar misbruikte vroue se gedagtes draai nie.
Hollywood het haar ook raakgesien, want ek sien sy is in die opvolg van Sherlock Holmes.
Intussen kon ek ook nie wag nie en het reeds die volgende film, The Girl Who Played with Fire, gesien en wag ongeduldig vir The Girl Who Kicked the Hornet’s Nest.
Regisseurs: Niels Arden Oplev
Met: Michael Nyqvist & Noomi Rapace
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
4 / 5

Lewer kommentaar