‘n Capricorn-verjaardag
Met ‘n Vonkelprop
Is ‘n laaste naestring geknip
En het my Bokkelok-lokkie 21 geword
‘n Jongvrou-lyf met ‘n klokkie-lag
Wat onafhanklik van my asemhaal
Onafhanklik dans, dartel en draal
Dis met ‘n traan in my oog my Kindjie
Wat ek jou saggies nog ‘n bietjie verder laat gaan
Dis met ‘n snik in my hart, my Kindjie
As ek trots toekyk, hoe jy op jou eie voete staan.
My grys-haar
Vanoggend het die grys haar weer vorentoe gelê
My opstaan was ‘n bietjie stadiger
En my lewenslus so effe min.
My vonkel so bietjie rou
Eens lank gelede het jy my gekies vir jou
Saligheid
Rustigheid
Vriendskap
Verliefdheid
Jy het gesê dat ek jou kalm maak
Jy het my liefgemaak
My weer mens gemaak
Maar vanaand voel ek tam – kan ek niks gee nie
Vanaand het ek jou rustigheid nodig
en soek ek die warmte van jou manwees
Want die grys haar lê weer vorentoe
Nog ‘n keer
En as ek weer kon kies
Sou ek na al my opsies kyk
Ek sou ons probleme opweeg
En ons ongeduld vergelyk
Ons hardkoppigheid beloer
En jou humeur met myne meet
Jou bakkie en my blikkie se waarde kry
En mooi dink oor hoeveel ons stry
En as ek dit oor kon doen, my Man,
Sou ek dit met ‘n lag weer doen
Jou stop langs die pad
En jou weer oopmondsoen
My Man:
Met ’n skok moes ek besef
dat my menswees se kern nie aan myself behoort.
Moes ek ervaar hoe jy ferm my hart hiet,
my siel steel,
my gees gebied.
Het ek wragtig vrywillig my hele lewe oorgegee?
Afgegee en afgeteken?
Is dit moontlik dat ek myself kon weggegee?
Besef jy dat in jou hand
is my hart asook die hef?
Die groter skok is egter
die besef dat ek presies is
waar ek wil wees.
By jou.
Dis wat ek wil hê.
Dis wat ek soek.
Dis my doel en my droom
Dis my wens.
Dis jy.
Dirk.
Aan jou wil ek behoort.
By jou wil ek wees.
Jy is die een – jy kalmeer my gees.
Jy kan my vervul.
Jy maak my vrou
Jy maak my heel.
Jy neem my so geheel en al oor …
… en dis al wat ek wil hê
Net jy, my Man.