Alice & Pooh is nou oop by die Breytenbach Galery in Wellington.
Met die viering van Alice in Wonderland se 150ste verjaardag in 2015, is hierdie uitstalling deur Marinda du Toit en Liekie Fouche, ‘n nuwe interpretasie van die Alice-ervaring. Winnie the Pooh-karakters word ook geïntegreer, ter ondersteuning van heirdie ryk kinderverhale waarmee die meeste van ons groot geword het, en nog steeds aanhang as volwassenes.
Du Toit werk met gevonde objekte in allerlei formaat, vorm, kleur en tekstuur. Hierdie aspekte dra daartoe by dat haar karakters verbeeldingryk en speels voorkom, dog met ‘n intense sensiwiteit vir nostalgie en surrealiteit.
Haar Alice lyk ietwat skepties, haar Piglet, beskeie en die troppie partytjiegangers na die “Madhatter’s tea party,” lewer selfs sosiale kommentaar op ‘n mengelmoes karakters (soms herkenbaar), wat ‘n deel van ‘n gemeenskap of ‘n samelewing kan verteenwoordig.
Vir hierdie uitstalling het Liekie Fouche gepoog om ‘n delikate balans te handhaaf tussen realiteit en droom, verlede en hede en tussen natuur en verbeelding.
Die werk is eklekties met surrealistiese elemente geplaas teen ‘n agtergrond van Suid-Afrikaanse landskappe, spesifiek die bergskappe eie aan die Franschhoek en Wellington omgewing.
Du Toit en Fouche se werk saam maak ‘n byna geheime, donker landskap van speelsheid en verbeelding, oop. Beide kunstenaars raak elemente in die sprokies, subtiel aan en skep ‘n nuwe visuele agtergrond.
Die uitstalling duur tot Januarie 2016 en kan besigtig word vanaf 9:00 tot 17:00 weeksdae, Saterdae van 10:00 tot 13:00 en Sondae slegs per afspraak.
