’n Legendariese beeldhouwerk van Anton van Wouw is volgende week op veiling in Johannesburg. Dieselfde veiling spog ook met ’n steendruk van Henri Matisse.

Kenners het onlangs besef dat ’n brief geskryf deur die skilder J.H. Pierneef, Van Wouw se peetkind, verwys na die beeldhouwerk van twee akkedisse deur Van Wouw. Dit is bo alle waarskynlikheid ’n afbeelding van twee akkedisse wat deur Pierneef en Van Wouw gevang is vir laasgenoemde se “Slegte nuus” (1907), wat in 2010 vir ’n rekord R2 228 000 verkoop is. Daar word verwag dat die akkedisse maksimum R180 000 sal haal.

Pierneef het oor die akkedis-vang episode geskryf, maar niemand kon ooit vasstel vir watter beeld Van Wouw hulle gebruik het nie. Agter die twee figure op “Slegte nuus” is daar egter ’n klein akkedissie. Op die beeldhouwerk van die akkedisse wat nou vorendag gekom het, is gegraveer “vir slegte nuus ~ No. 1” en daaronder die smeltery se naam en Van Wouw se handtekening. Ontleding van “No. 2” bevestig dat dit die akkedissie op “Slegte nuus” is.

Henri Matisse se werk op die veiling, “Nude, Étude de Jambes” (studie van bene), is nommer 13 van 50 afdrukke van ’n steendruk wat hy in 1925 gemaak het. Die beraamde waarde is maksimum R60 000.

Die veiling vind Saterdag 30 Julie 2016 plaas by Russell Kaplan Auctioneers om 13h00. Besigtiging is 27 tot 30 Julie 2016 en die oggend van die veiling by afslaers in Bordeaux, Johannesburg.

vir slegte nuus
vir slegte nuus
Nude, Étude de Jambes
Nude, Étude de Jambes

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar