Nuwe kunskurator vir KKNK

Elfriede Dreyer – bekende kurator, akademikus en kunstenaar- is aangewys as die Absa KKNK se nuwe visuele kuns kurator.


Sy volg Sandra Hanekom op, wie se drie jaar termyn met die pas afgelope fees ten einde geloop het.
As die enigste Suid-Afrikaner wat deur die NRF gradering ontvang het as navorser in kuratoriale praktyk, het sy ook vele groot uitstallings op haar kerfstok. Sy het opleiding in beide Suid-Afrika en Nederland ontvang en het voorgraadse en nagraadse kwalifikasies in onder meer Beeldende Kunste, Kunsgeskiedenis, Multimedia, Onderwys, Klavier, Filosofie en Frans.

Sy het vir nege jaar haar eie gallery, Fried Contemporary Art Galery & Studio in Pretoria bedryf en in 2013 is sy genooi vir ‘n besoek deur die kurators van die National Museum of African Arts (NMAFA) van die Smithsonian Institute in Washington. Soortgelyke uitnodigings van ander internasionale instansies sluit in, School of the Art Institute in Chicago, Muthesius Hochschule in Kassel, DCDM besigheidskool in Mauritius en die Koninklijke Academie voor Schone Kunsten in Antwerpen.

Elfriede se ervaring in die akademie strek oor 24 jaar in verskeie hoedanighede onder andere as Hoof van Unisa se Kuns-department en as Professor van Beeldende Kunste by Tuks. Sy is sedert 1 April 2014 die Uitvoerende Hoof en Akademiese Direkteur van Open Window in Centurion.

As kunstenaar was sy al betrokke by verskeie uitstallings by die Absa KKNK, asook die kurator van suksesvolle en hoogaangeskrewe groepuitstallings. Haar uitgebreide akademiese kennis, nasionale en internasionale werksaamhede, betrokkenheid by die kommersiële deel van die kunste, asook haar aansien in die kunste-gemeenskap, maak van Dr Elfriede Dreyer ‘n uitstekende opvolger vir Sandra Hanekom as die nuwe visuele kuns kurator vir die Absa KKNK.

Elfriede Dreyer
Elfriede Dreyer

Lewer kommentaar

Leave a Reply