Die wêreldmusiek-produksie Afrique mon désir met Laurinda Hofmeyr en die Afrique mon désir Ensemble het gehore in Parys, Bordeaux, Poitiers en Angoulême gaande gehad tydens hul toer na Frankryk in Junie vanjaar. Daar is goeie nuus vir Kaapse musiekliefhebbers: dié gewilde produksie sal nou ook in Oktober by Die Fugard Teater in Kaapstad te sien wees vir vier eksklusiewe vertonings. Dit word aangebied op 18, 19, 20 Oktober 20h00, asook `n middagvertoning 16h00 op Saterdag 20 Oktober.
In Afrique mon désir, kombineer Hofmeyr, bekend as ‘n meester van toonsettings, tesame met haar ensemble van musikante afkomstig van Kaapstad en Wes-Afrika, aansteeklike ritmes met die ryk digkuns van Franssprekende Afrika – vanaf Madagaskar tot Mauritanië, van Kameroen tot Kaapstad. Hulle ondersoek temas van verlange en verplasing en vind ‘n diep konneksie met die Afrika kontinent. Diek Grobler se meusleurende animasiekuns maak dit `n oudiovisuele fees.
Vir regisseur David Kramer was Afrique mon désir `n unieke projek: “Ek het dit geniet om te werk met die kombinasie van Afrikaans en Franse digkuns, aangebied deur musikante van Kaapstad en die Kongo. Om saam met Laurinda Hofmeyr te werk en haar aan `n internasionale gehoor bekend te stel was vir my `n baie bevredigende ervaring.”
Afrique mon désir word aangebied deur die Cape Town Music Academy en het vroeër vanjaar by die Woordfees gedebuteer waar dit n WoordTROfee nominasie ontvang het vir Beste Musiekgroep. By die KKNK het dit n Kanna Nominasie ontvang vir Beste Musiekproduksie. By beide feeste het die stuk voor vol sale gespeel en fantastiese resensies ontvang. Die album met dieselfde titel is deur die Franse maatskappy In Ouïe opgemerk en word sedert Mei 2018 wêreldwyd versprei.
Hofmeyr sê dat dit `n onvergeetlike ervaring was om in Frankryk op te tree. “Daar was baie hoogtepunte, maar om voor `n vol saal op die openingsaand by die bekende New Mornings Teater in Parys op te tree het vir my uitgestaan. Dit is hier waar groot legendes soos Miles Davis, Bob Dylan, Papa Wemba en Hugh Masekela ook al opgetree het. Ons moes groot skoene vul! Ons is baie opgewonde om nou die show terug te bring huis toe na Die Fugard.”
Kaartjies vanaf R140 te kry by www.thefugard.com of skakel Die Fugard Teater se kaartjiekantoor: 021 461 4554