Die legendariese Suid-Afrikaanse sanger, regisseur en liedjieskrywer, Anton Goosen, het dekades terug reeds die kuns bemeester om luisteraars te bekoor met sy interessante lirieke en meesleurende deuntjies.

Met sy nuutste enkelsnit en musiekvideo, “Gigi”, bewys hy net weereens hoekom hy reeds sulke diep spore in die plaaslike musiekbedryf kon trap.

Nes die liedjie, vertel die musiekvideo die verhaal van ’n paaldanser van Velddrif in die Weskus wat nou in Johannesburg (Devilsdorp) woon en in ’n klub moet dans om haar brood en botter te verdien. Omdat sy so ’n wonderlike vrou is, vang sy die oog van haar “prins” Jerman wat haar vir ’n tydjie red uit haar omstandighede. Maar soos wat die tyd aanstap, sien sy hom al minder waar hulle saam op die boonste verdieping van die Ponte-toring, ’n hoë ronde gebou naby Hillbrow, woon.

Gigi – Anton Goosen

“’Gigi’ is die tweede enkelsnit en video vanaf my nuutste album, Sirkels, en sluit aan by die tema van die album wat handel oor sirkels… Gigi wat draai om die paal, arende wat draai, waterkringetjies, en dit is net daar waar die arend in die gedrang kom. Maar ek gaan nie die einde weggee nie en dink elkeen moet dit interpreteer soos hulle graag wil,” sê die Liedjieboer oor die betekenis agter die snit.

Niel van Deventer het die vervaardiging en regie van die video behartig, terwyl Marta Vorontsova verantwoordelik was vir die animasie-aspek en Shaun Chad Smit vir die redigering. Buiten vir Anton , is Lise Swart, Neil Sandilands, Schalk Joubert en Illimar Neitz ook in die video te sien.

“Gigi” volg in die voetspore van “Bly By My, (My Lief)”, ’n gedig van Antjie Krog wat hy getoonset het, wat baie goed ontvang is.

Gigi – Anton Goosen

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply