As jy eendag glo

Na ‘n paar jaar se blaaskans maak Amanda Luyt ‘n welkome terugkeer tot die plaaslike musiekbedryf met haar kraakvars CD As jy aan eendag glo. Amanda het in 1987 haar eerste album My verlange uitgereik en haar tweede album Woorde volg in 1989. Sy en haar musikant-man Harold Schenk neem in 1995 die gewilde Ye-Ye-album op. In 1996 volg Paradiso.

Amanda vertel dat sy die afgelope paar jaar meer tyd saam met haar gesin deurgebring het en haar kinders privaat by die huis onderrig het. Sy het egter onlangs besluit om haar gewig weer meer in die plaaslike musiekbedryf in te gooi.

Haar jongste album wat by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees uitgereik is, is ‘n samestellings-album met treffers van al haar vorige uitgereikings. ‘n Hele paar van die ou treffers op haar nuwe album kry ‘n splinternuwe baadjie.

Van die liedjies op As jy aan eendag glo sluit in ‘n moderne weergawe van “Die seewind bring heimwee”, “Jy’s my inspirasie” (geskryf deur André Swiegers en Harold Schenk) en ‘n sokkie-weergawe van “As jy aan eendag glo”.

Sy sing ook Franna Benade se “Ek sal onthou” en snoer talente saam met Danie Niehaus, Coleske en André Swiegers in “Die Suid-Afrikaanse droom”. Van die Ye-Ye-album sing sy “Gebed vir Vrede”, “Ek sal jou nooit vergeet nie” en “Toe kom jy”.

Drie treffers van haar album My verlange – “Ek kyk graag so diep in jou oë”, “Sonder jou” en “Die seewind bring heimwee” – word ook op die samestellings-album ingesluit. “Circle of Friends” van haar album Paradiso pryk ook op die nuwe CD.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply