Dit was ‘n droom wat al lank wag om waar te word.
Ivan Zimmermann is bekend vir rolle sepies soos Dit Wat Stom Is, Egoli en 7de Laan, maar hy het nog altyd geweet dat hy eendag ‘n CD sal opneem. Dit het gebeur toe hy Asems Uit die See in 2010 vrygestel het.
“Ek skryf al baie lank gedigte en so vyf jaar terug het ek van dit begin toonset,” vertel hy. “Ek het daaraan geskaaf en vir mense van die liedjies begin speel. My droom om ‘n CD op te neem, het al nader gekom. Daar was twee dinge wat vir my baie belangrik was met die album: al die liedjies moet oorspronklik wees en dit moet iets vir my beteken.”
Elkeen van die elf snitte op Asems Uit die See het ‘n storie. So is ‘Weskus van God’, die eerste snit op die album, ‘n liedjie wat Ivan sewe jaar terug geskryf het toe hy Lize Beekman se huis in Melkbosstrand aan die Weskus opgepas het. “Dit was eers ‘n gedig en ek het dit later in Saldanha getoonset. My liefde vir die Weskus het juis begin toe ek in Saldanha in die vloot was,” vertel Ivan.
‘Ek Weet Jy Weet’ is ‘n liedjie van hoop. “Ek was nog altyd baie geïnteresseerd in meerminne. Wanneer vriende vra waar my meisie is, spot ek en sê sy is ‘n meermin wat net vir ‘n rukkie weg is. Maar die liedjie ‘Ek Weet Jy Weet’ is eintlik ‘n liedjie van hoop – nie net hoop vir liefde nie, maar hoop vir die lewe. Mens moet nooit ophou hoop nie. En in die lewe kan jy sê wat jy wil, maar aan die einde van die dag gaan dit oor dade, oor wat jy dóén.”
Wat wil hy met die album bereik?
“Ek glo ek praat ‘n taal wat mense kan verstaan en ek hoop my liedjies beteken iets vir hulle. Ek hoop die album laat hulle dink en dalk ook help om iets terug te kry wat hulle in hul lewens verloor het. Daar is in elkeen van die liedjies iets waar mense hulle in my skoene kan plaas.”
Ivan is 8 Julie by die Ou Meulteater in die Paarl. Bespreek by 083 564 00 56 / vstemmet@gmail.com
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)