Op die mooiste eiland wat een paar oë ooit aanskou het, dis nou as jy Columbus kan glo, het ‘n jong Jamaikaanse meisie op 4 Februarie 1945 geboorte geskenk aan kaptein Norval Marley se seun Robert Nesta Marley. Die seun se ouers is nooit getroud nie en die kaptein het Cedalla Booker kort na die geboorte verlaat.
As jong man was Bob beste vriende met Bunny Wailer. Hulle het later ‘n driemanskap geword toe hulle Peter Macintosh in ‘n musiekklas ontmoet het. Dit was egter sy ontmoeting met Jimmy Cliff wat die eerste tree was op sy pad wat sou eindig as ‘n internasionale ikoon. Cliff het gesorg dat Marley sy eerste oudisie kry en dit was dadelik duidelik dat hy buitengewoon talentvol is.
In 1963 stig Bob, Bunny, Peter Tosh en ‘n paar vriende die Wailing Wailers. Later is hulle herdoop tot die Wailers met Bob Marley wat meeste van die liedjies geskryf het. Na vele albums het Bunny Wailer en Peter Tosh hul eie paadjie geloop en die groep se naam is verander Bob Marley and the Wailers.
In 1963 is Bob Marley getroud met Rita Anderson. Rita Marley het later een van die I-Threes geword. Die drie vrouestemme in die agtergrond het Marley gehelp het om sy kenmerkende klank te skep. Hul eersteling is vernoem na sy moeder Cedalla.
Gedurende ‘n toer in Europa in 1977 het Marley sy toon beseer in ‘n sokkerwedstryd. ‘n Diagnose het getoon dat die toon kankeragtig is. Die kanker kon gekeer word deur die toon te amputeer, maar Marley het geweier omdat sy Rastafariese geloof dit verbied het. Sy gesondheid het stelselmatig versleg en hy is op die ouderdom van 36 jaar oorlede in 1981 weens kanker in ‘n hospitaal in Miami.
Bob Marley sou Sondag 6 Februarie 2005 60 jaar oud wees. Die geleentheid word vanjaar met die Afrika Verenig Fees in Ethiopië gedenk.
Bob Marley se nalatenskap sluit in:
“One more cup of Coffee”, “Mellow Mood”, “Small Axe”, “I shot the Sheriff”, “Get Up Stand Up”, “No Woman No Cry”, “Nutty Dread”, “War”, “Exodus”, “Redemption Song”, “Is this Love”, “Stir it Up”, “Turn Your Lights Down Low”, “Buffalo Soldier”, “Chant Down Babylon”, “Could You Be Loved”, “Three Little Birds”, “Easy Skanking”, “People Get Ready”, “Jamming”, “Punky Reggae Party”, “Lively Up Yourself” en “One Love”.
Lank lewe Bob!
Bronne:
Farley, Christopher John. 2005. Remembering Bob Marley. Time, 4 Februarie 2005. <http://www.time.com>
Peake, Mike. 20 Maart 1998. Biography. Thirdfield.com, 4 Februarie 2005. <http://www.thirdfield.com>
