Jannie stel ook op die aand sy nuwe CD, Jannie du Toit chante/sing/sings/zingt Brel bekend. Die helfte van die 22 Brel-chansons is bestaande opnames wat hy saam met Christa Steyn gemaak het – beginnende met “Madeleine” en “Liefde van later” in 1990. Dan is daar ook Brel-liedjies uit De Kleine Man van 1994, Jannie en die Tannie van 2006 en Brel in Brooklyn van 2010. Die ander helfte is opnames van verwerkings wat vir die huidige produksie gemaak is. Hierdie album is ’n lank gekoesterde droom van Jannie wat nou gestalte kry.
In Bonjour Monsieur Brel word Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale gesing deur Jannie du Toit en begelei deur ’n musiekensemble uit die boonste rakke. Jannie is dekades reeds ’n hoog aangeskrewe Brel-vertolker en ’n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns, onder andere in Nederlands. Sy eerste vertolkings van Brel sing hy in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Laurika Rauch. Brel speel sedertdien deurgaans ’n rol in aanbiedinge soos De Kleine Man en Jannie en die Tannie saam met Christa Steyn.
Sy mees onlangse optrede in ’n Brel-produksie was Brel in Brooklyn in 2010, weer saam met Laurika, met Christa by die klavier en Sergio Zampolli as akkordeonis. Veral twee Nederlandse Brel-liedere – “Madeleine” en “Liefde van later” – vestig hom vroeg in die negentigerjare as Brel-vertolker, maar sy latere Franse weergawes van “La Valse” en “Il Neige sur Liège” kry ook hoë lof van kenners. Naòmi Morgan se Afrikaanse vertalings, wat uiters gunstig vergelyk met vertalings in ander tale, verteenwoordig ’n verrassende nuwe blik op Brel se tekste. Bekende treffers is natuurlik op die spyskaart, maar ook van sy meer onbekende, ewe briljante werk.
Met sy uiters geslaagde eenmanvertoning van woordkuns en musiek – Doep is nie dood nie – steeds op die planke, verwesenlik Jannie ’n jarelange ideaal om Brel ook in die genre van die eenman-literêre kabaret aan te bied. Onder leiding van die deurwinterde Juanita Swanepoel – regisseur en dosent in drama by Stellenbosch Universiteit – word verbande tussen liedere en gedigte gelê en toegelig. Brel se geniale beeldende skryfwerk kom na vore en is soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se opera’s, helaas soos alle groot kuns, tydloos. Brel se liedkuns sal nog vir ’n lang tyd telkens weer nuut geïnterpreteer en beluister word. In hierdie program kom sy genialiteit ewe sterk na vore in al vier tale – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van die 20ste eeu.
In haar resensie oor die vertoning by die Vrystaatfees, skryf Naomi Morgan (verbonde aan die Departement Frans aan die Universiteit van die Vrystaat) onder andere: ‘Hierdie produksie is afgerond en goed beplan’ ‘Bonjour, Monsieur Brel! is ‘n energieke vertoning waarin Jannie die hele verhoog gebruik en woorde met hande en liggaamstaal verbeeld’
‘Die taalverskeidenheid van die vertoning maak ‘n luukse indruk in hierdie tye van taalverskraling: vier tale (Frans, Nederlands, Engels en Afrikaans) word ondersteun deur kultureel-spesifieke lyftaal wat opmerklik is in veral die Nederlandse en Engels liedjies (soos “Amsterdam”, wat Jannie sing in ‘n diep register met ‘n perfekte Britse aksent)’
‘Rall se sprankelende begeleiding in “Madeleine” herinner aan die interpretasie van gebeure op die grootskerm deur klavierspelers in die era van die stilfilms. Mouton se welluidende tjelloklank voer ‘n empatiese dialoog met Jannie se stem; veral in “Jojo” en “Laat me niet alleen” onderstreep die lang, ekspressiewe note die patos van die situasie wat deur die woorde geskets word’
Die gehoor by die Brooklyn Teater word deur Mont du Toit Kelders van Wellington genooi om ’n heerlike glasie prima Suid-Afrikaanse rooiwyn komplimentêr te klink.
Die album is reeds by Salon Musiek op die terrein van die Brooklynteater te koop, maar kan ook van enige goeie CD-winkel bestel word. Die verspreiding in die handel word hanteer deur REAL Music: 011 823 1771 of e-pos sales@realmusic.co.za.
Lewer kommentaar