Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Christi, gaan beslis ’n omwenteling in die plaaslike musiekmark veroorsaak met die vrystelling van haar langverwagte debuut-album, Fall Apart.

Hierdie album is ’n pop-meesterstuk met invloede uit die 80’s en pop-rock-genre wat die essens van haar persoonlike en musiekreis weergee.

As jy haar uitvra oor die titel, verduidelik sy: “My eerste enkelsnit was ‘Fall Apart’ en alhoewel ek dit nie die titel wou maak nie, het dit aanhou opduik. Ek voel dat die album baie uitdagings verteenwoordig wat ek al moes oorkom. Die snitte is oor ’n tydperk van agt jaar geskryf, waarin ek uitmekaar geval het maar ook gegroei het. Na al die sleg, werk dinge tog op ’n manier vir die beste uit.”

Fall Apart bestaan uit elf snitte, wat elkeen spesifieke temas aanraak soos ’n gebreekte hart, selftwyfel, depressie, alkoholisme en selfs seksuele mishandeling. Hoewel die album ernstige kwessies aanspreek, word dit aangebied op ’n lekkerluister en prettige manier wat opgewekte pop-rockklanke van die 2000’s en 80’s musiek insluit.

Dit is vervaardig deur Daniel Baron, met die hulp van Johan Viljoen (Zebraman en BOBBEJAN). Christi het saam met verskeie skrywers gewerk en die album stel haar veelsydigheid en vermoë om kwesbare emosies op ’n vereenselwigbare manier weer te gee perfek ten toon.

Van haar gunsteling-snitte op die album, is beslis ‘Playing’ en ‘One Step’. ‘Playing’ is haar mees kwesbare liedjie en is geïnspireer deur een van die slegste tye in haar lewe. In kontras hiermee, is ‘One Step’ ’n goedvoel-liedjie wat elemente van The Beatles en Fleetwood Mac kombineer om ’n moderne klank te skep wat luisteraars motiveer om die beste te maak van elke oomblik.

Sy het reeds in 2016 begin skryf aan die album en regdeur die pandemie opnames gedoen. Dié ervaring het die wêreld vir haar beteken en sy verklap: “Ek het saam met wonderlike mense gewerk. Nie net was dit ’n heerlike en kreatiewe ervaring nie, maar ek het ook so baie geleer. Dit was lekker om te sien hoe my musiek verander en ontwikkel en ek sou dit nie sonder my mentors en vervaardigers kon doen nie.”

Om die bekendstelling van haar album te vier, reik sy ook ’n splinternuwe enkelsnit uit. ‘Love Burn’ is ’n tipiese liedjie oor ’n verbreekte verhouding en kom uit haar eie pen. Dit is ’n ritmiese snit, wat moderne elemente met klanke van die vroeë 2000’s kombineer.

“Nadat my langtermynverhouding tot ’n einde gekom het, het ek besef dat ek die persoon met wie ek uitgegaan het nie regtig geken het nie. Ek het ’n ander kant van hom gesien en het die verhouding van sy kant af begin sien. Net soos Taylor Swift, het ek my hartseer en teleurstelling omgesit in lirieke en ’n liedjie daaroor geskryf,” vertel sy oor haar vyfde enkelsnit.

‘Love Burn’ kan nou op stromingsplatforms gehoor word en die musiekvideo is ook binnekort beskikbaar.

christi 2024 foto Bella Otto
Christi, foto: Bella Otto

Christi wou van kleins af musiek maak, ’n passie wat aangewakker is deur haar pa wat self ’n platejoggie is. Sy woon tans in Potchefstroom en spandeer al haar tyd aan haar musiekloopbaan

Sy is ook besig met ’n internskap by haar kerk wat fokus op lofprysing en kampusbediening. Sy wil ook graag Duits leer en Duitsland en Oostenryk besoek in 2024.

Met hope planne om meer op te tree en nog nuwe musiek te skep, wag daar beslis ’n opwindende en besige jaar op Christi.

Oor die afgelope paar jaar het die musiekbedryf haar geleer om outentiek te wees en aan haar eie styl en klank te bou, en dit is presies wat sy met haar eerste album gedoen het.

“Jy kan ongelukkig nie almal tevrede stel nie en ek het geleer dat dit makliker is om net myself te wees, want dis wanneer ek die beste musiek maak,” sluit sy af.

Die album Fall Apart en enkelsnit ‘Love Burn’ is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

Fall Apart – Christi

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply