Bouwer Bosch vertel meer oor die maak van die dokumentêre video vir “Liefde. Love. Uthando.“: “In ’n maand soos hierdie met al die verskillende gesprekke en diskoers op die tafel moet ons bietjie stilstaan en oor ons erfenis nadink. Ons is nie net Afrikaners, Zulu’s, Tswana’s etc etc nie, ons is ook Suid Afrikaners, en ons is besig om saam te skryf aan ’n nuwe hoofstuk vir die volgende generasie. Die dokumentêr se doel is om betekenis te gee aan wat ons doen as dansers, skrywers, musikant en landsburgers. Ons deel stories oor hoekom ons lief is vir die kunste, die verantwoordelikheid wat saam met dit kom en die eenheid wat die kunste kan skep in ’n uitdagende land soos Suid Afrika. Dit is maklik om mense teen mekaar op te vryf, maar die doel van hierdie lied en musiekvideo is juis om te wys dat daar hoop en versoening in die erkenning van mekaar se identiteite kan wees.”
Die oorspronklike idee van die musiekvideo was vir eers net om ’n kort gedeelte van elkeen se verhaal te deel maar soos ons begin het met die vra het Gazelle voorgestel ons gesels bietjie langer met almal en kry bietjie meer konteks. Die dokumentêr het amper per ongeluk gebeur omdat ons op die dag van die shoot besluit het om meer vrae te vra en almal meer geleentheid te gee om hul stories te vertel.”
Die lied is geskryf en vervaardig deur Bouwer Bosch.
Lirieke – Bouwer Bosch, Gazelle, Freddy L.
Finale meng deur Peach van Pletzen.
