Gé Korsten sterf op 29 September 1999. Op die presiesde dag, vyf-en-twintig jaar later, bring Lefra Produksies hulde aan hierdie legendariese sanger met Frans Swart se huldeblykroduksie, Gé Sing: Hoor My Lied! wat op Sondag, 29 September 2024 om 15:00 by Emperors Palace se Theatre of Marcellus aangebied word. Frans Swart, regisseur van Gé Sing: Hoor My Lied! sê dit is vir hom ‘n ongelooflike voorreg om hierdie besondere produksie op die presiese dag, 25 jaar later, toe Gé se stem vir altyd stil geword het, aan te bied. “Na soveel jare kom ‘n mens weer onder die besef oor watter ongelooflike rol Gé in die Afrikaanse, maar veral ook die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gespeel het,” sê Swart. “Sy musiek, sy sjarme, sy omgee, sy menswees sal vir altyd onthou word!”
Gé Sing: Hoor My Lied! word op Sondag, 29 September 2024 om 15:00 by Emperors Palace se Theatre of Marcellus aangebied vir slegs een vertoning met Arina de Witt, Louis Loock, Stephanie Baartman en Fatman (Johan Brummer). Besprekings kan aanlyn by www.LTickets.co.za gedoen word, en groepe van 10 of meer kry oudergewoonte ‘n lekker afslag deur Lefra Produksies te skakel by (011) 815-3000, of ‘n e-pos te stuur aan admin@lefra.com. Gé Sing: Hoor My Lied! word aangebied met die trotse ondersteuning van Ambassador Execudrive, Britz Couriers and Removals, Lift, Hollywood Costumes, RSG, Van Loveren Wines en WS Pianos.
Frans Swart, regisseur van Gé Sing: Hoor My Lied sê dit is vir hom ‘n besondere groot voorreg om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar. “As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV, was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gé Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflike respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, adminstrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende!”
In die produksie Gé Sing: Hoor My Lied word oudiovisuele argiefmateriaal teen ‘n reuse skerm geprojekteer om die gehoor ‘n oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ‘n vars manier herinterpreteer deur vier van die land se voorste kunstenaars: Louis Loock, Arina de Witt, Fatman (Johan Brummer) en Stephanie Baartman. ‘n Volle orkes, onder leiding van musikale regisseur Chanie Jonker begelei viermanskap. Die regie en teks deur Frans Swart
Korsten is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland gebore. Hy was die jongste van agt kinders en het in 1936 as negejarige seun saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het sy loopbaan as operasanger begin en was reeds op 20-jarige ouderdom lid van die SAUK se kore. Hy het in 1952 stemopleiding ontvang aan die South African College of Music in Kaapstad onder leiding van Adelheid Armhold. In 1955 het hy na Pretoria verhuis waar hy verdere opleiding onder leiding van Albrecht Lewald ontvang het. Hy was in dieselfde jaar ook een van die stigterslede van die Pretoria-operagroep. Sy operadebuut maak hy in 1956 as Canio in Pagliacci. In 1962 word ‘n oorsese studiebeurs aan hom toegeken waarna hy in 1963 in Europa onder Judith Hellwig verdere opleiding ontvang en ook die geleentheid kry om in operas in Europese stede soos Wene en München op te tree. In 1976 het hy die Nederburgprys vir Opera ontvang vir sy hoofrol in Andrea Chénier.
Korsten het nege goue plate agter sy naam gehad. Hy het tydens sy loopbaan, wat oor 40 jaar gestrek het, 58 albums opgeneem. Hy het ses Sarie-toekennings ontvang en in 1979 ‘n Artestoekenning vir sy TV-program Gé Sing. Hy het ook die rol van Walt Vorster in die sepie Egoli gespeel. In 1985 is hy as hoofdirekteur van Kruik in Kaapstad aangestel en het die pos tot in 1989 beklee. Korsten is op 3 Mei 2008 tydens die 14de Suid-Afrikaanse Musiektoekennings vereer vir ‘n leeftyd se bydrae tot plaaslike musiek.
Gé Sing: Hoor My Lied beloof ‘n aand se elegante vermaak, geskik vir die hele gesin, wat enersyds werk as vermaak, maar andersyds ook die nalatenskap van ons baanbrekers weer in fokus bring. Kry jou kaartjies vir die ongelooflike teaterervaring nou by www.LTickets.co.za, of skakel (011) 815-3000, en druk opsie 2.