Kunstekaap se jeugmusiekkompetisie kry meer pryse

Die prysgeld vir vanjaar se Kunstekaap Nasionale Jeugmusiekkompetisie het tot meer as R120 000 gestyg en sluit ‘n kontanttoekenning aan elk van die 18 gekeurde musici vanoor die hele land in.


Die 18 is gekies ná landwye oudisies. Elkeen kry R1 000 kontant nog voordat hulle begin om in mekaar die stryd aan te sê in die finale rondes wat van 14 tot 18 Oktober by die Kunstekaap-teater in Kaapstad plaasvind.

Die nuwe R5 000-Michael Masote-prys vir die beste stykinstrumentspeler het die totale prysgeld tot oor R120 000 merk gestoot, en die wenner en naaswenners kry ook goue, silwer en brons medaljes.

“Hierdie is die derde grootste musiekkompetisie in Suid-Afrika en die enigste een vir talentvolle klassieke musici tussen die ouderdom van 14 en 19 jaar wie te jonk is om aan die UNISA Internasionale Musiek- en die ATKV Muziq-kompetisies deel te neem,” sê Kunstekaap se uitvoerende hoof, Michael Maas.

“Dit is ook die enigste musiekkompetisie in Suid-Afrika waar die jong finaliste die voorreg het om onder die begeleiding van die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO) teen mekaar mee te ding.

“Vir die tweede agtereenvolgende jaar het ons deelnemers in al vier afdelings, naamlik klavier, stryk-, blaas- en ander instrumente,” sê hy.

Alle deelnemers speel in die eerste twee rondes waarna ‘n maksimum van 12 vir die derde ronde gekies word. Ses finaliste word dan aangewys om saam met die KFO onder leiding van Brandon Phillips, die artistieke direkteur en dirigent van die Kaapstad Jeug Filharmoniese Orkes, op te tree.

Tydens die eertse twee rondes speel elke deelnemer vier stukke uit ten minste drie verskillende styl-periodes. Een van die stukke moet ‘n beweging van ‘n klassieke of romantiese sonate insluit. Latere styl-periodes word vir koperblaas instrumente en saksofoon toegelaat.

In die derde ronde, speel deelnemers ‘n 20-minute uitvoering van kontras-terende werke, sowel as ‘n beweging uit ‘n concerto; of ‘n enkele stuk vir die gekose instrument; of twee bewegings van ‘n concerto; of ‘n volle concerto met klavierbegeleiding.

Die beoordelingspaneel sluit prominente academici en musici in soos prof Nicholas Basson (musiekopvoeder), Ella Fourie (klavier), Michael Maas (Kunstekaap HUB), Suzanne Martens (viool), Kutlwano Masote (viool), Mario Nell (klavier), Nina Schumann (klavier) en Bridget Rennie-Salonen (fluit).

As deel van ‘n opleidingsinisiatief word die UNISA-skadujurie saamgestel uit voormalige deelnemers aan die kompetisie.

“Sedert die kompetisie se instelling by Kunstekaap, sewe jaar gelede, het die geleentheid ontwikkel tot een van die voorste toonvensters van Afrika se toekomstige klassieke musieksterre,” sê Maas.

Die finaliste galakonsert op 18 Oktober begin om 19:30. Kaartjies kos R100, terwyl pensioentrekkers en student slegs R40 betaal. Besprekings kan gedoen word by Kunstekaap Bel-‘n-Sitplek 021 421 7695, Computicket 0861 915 8000, Shoprite en Checkers-winkels, of aanlyn www.computicket.com.

Lewer kommentaar

Leave a Reply