Langpadstories

Stories is die kat-ogies van die langpad en die GPS vir die siel.

Drie groot geeste van Afrikaans is tans besig om verskeie siele se koördinate te stel met hul storieaand genaamd Langpadstories.

Skrywer en reisjoernalis Dana Snyman, sanger Bacchus Nel en digter Kabous Verwoed gee elk ‘n eiesoortige uitkyk op die lewe. Dis ‘n onpretensieuse show en alles gaan rondom die tema: reis.

Dana vertel stories oor boere, boemelaars, swanger kroegmeisies en ‘n ou wat 42 keer ná mekaar na Steve Hofmeyr se liedjie “Pampoen” geluister het. Tussendeur sing Bacchus (wat nog eendag so bekend soos Koos du Plessis gaan wees) oor die langpad se vreugde en verdried. Kabous, weer, bewys jy hoef nie ‘n rolnektrui te dra en iets van paarrym en metrum te weet om poësie te kan geniet nie. Jy kán net sit en na die ongelooflike mooi woorde luister.

Al drie deel hul woorde van alleenheid, misdaad, die dood en alkholisme – woorde wat raakpunte met baie Suid-Afrikaners het.

Die show is nie baie swaar en êrnstig nie, maar ook glad nie lighartig en laf nie. Jy gaan wel lag, soms ‘n bietjie hartseer voel maar tog aan die einde beter voel oor die lewe in die algemeen en Suid-Afrika in besonder.

langpadstories(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar