Mathys laat wiel

Mathys Roets is hard aan die werk, energiek en entoesiasties en sy program vir die res van die jaar is propvol. En die plattelanders sal bly wees om te verneem dat hulle nie afgeskeep word nie!

Die lang man met die meesleurende stem is veral bekend vir sy besonderse vertolking van musiek van Koos du Plessis en Leonard Cohen, maar met sy reeks Masters of Song, het hy ook reg laat geskied aan die immergewilde klanke van Cat Stevens, Neil Diamond en Roger Whittaker.

Hy is die eerste kunstenaar in Suid-Afrika wat ’n DVD vrygestel het: Mathys Live – Vrydag die 13de. Intussen het hy ook met Kevin Leo en Danie Niehaus saamgespan. Die vertonings van Drie van die Bestes is steeds gewild en die DVD daarvan ook ’n wenner.

Hy het ook sy tweede DVD, Songs of Leonard Cohen, einde Desember 2005 vrygestel. Die vertoning is lewendig opgeneem in die Sand Du Plessis teater in Bloemfontein, waar hy opgetree het met ‘n orkes wat bestaan uit van die beste musikante in die land. Met dié opname is daar gepoog om die beste moontlike beeld- en klankkwaliteit te bied.

In 2006 het die album Fluister verskyn. Volgens Mathys hou hy daarvan om dinge op ’n stiller manier te doen, en dis waarom Fluister so na aan sy hart lê. Die helfte van die liedjies is deur Piet van Wyk De Vries geskryf en die kwaliteit daarvan vergestalt die slagspreuk: Trots Suid-Afrikaans.

Mathys se twaalfde CD, In retrospeksie, het 2009 verskyn. Daarop is gunstelinge soos “Don’t believe in if”, “Droomvrou”, “Dance me to the end of love”, “Daar’s ’n plek”, “Splinterruit”, “Bird on a wire”, “Fluister”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Hallelujah” en “Gebed”. Dié versameling van 22 liedjies som sy omvangryke talent en besonderse styl op. Hy is sinoniem met sinvolle musiek waarna mens lank kan luister, en dat hy reeds besig is met die beplanning van sy volgende album is opwindende nuus.

Mathys Roets
Mathys Roets
Hy het al op uitnodiging gesing in Engeland, Griekeland, Nieu-Seeland, Australië, Kanada en Dubai, maar vir die res van die jaar kan Suid-Afrikaanse gehore die voorreg geniet om na hom te luister.

Hy is op 5 Junie by Die Boer in Durbanville en daar sal ’n mengelmoes-program aangebied word met van sy mooiste nuwe liedjies en verskeie van die ou gunstelinge.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar