Die FAK vier vanjaar op 18 Desember sy tagtigste verjaarsdag en bied reeds vir etlike jare musiekbeurse aan talentvolle musiekleerders en -studente. Aansoeke word deur die FAK Musiekkomitee gekeur en dit is die 56ste jaar wat hierdie toekennings plaasvind.
Buiten die Bill Venter/FAK Musiekbeurs word daar ook voorsiening vir laerskoolleerders en hoërskoolleerders gemaak met die FAK/Gawie Cillié Junior Musiekbeurs en die FAK/Gawie Cillié Hoërskool Musiekbeurs asook die FAK Senior Musiekbeurs. Verder is daar ook twee beurse van R4 000 elk beskikbaar vir ingeskrewe studente aan die Universiteit van Stellenbosch en twee beurse van R2 000 elk vir Universiteit van Vrystaat-studente.
Die FAK/Mimi Coertse Sangbeurs is in 2006 vir die eerste keer toegeken. Me Coertse het hierdie beurs in die lewe geroep met die doel om sangstudente tussen die ouderdomme 20 – 28 (nie professionele persone nie) in staat te stel om hulle sangtalent verder te ontgin.
Beursaansoeke sluit 15 Februarie 2010. Inligting is ook op die webwerf, www.fak.org.za, beskikbaar. Verdere navrae kan gerig word aan die FAK-kantoor. Aansoekvorms kan ook by die FAK-kantoor verkry word by (012) 301 1777 of sariem@fak.org.za
