Na plekke waar engele sing

 

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Nianell stap op ‘n verhoog met ongelooflike energie, en neem haar gehoor saam na plekke waarvan hulle voorheen net kon droom. Haar besondere stem, wat oor byna vier oktawe strek, word ‘n magtige instrument, waarmee sy woorde en wysie op ‘n unieke wyse saamvoeg om ‘n onuitwisbare indruk te laat op almal wat die voorreg het om haar te sien optree.

Wanneer jy na haar wye repertoire luister, is dit verstommend om te dink dat sy al haar musiek self skryf. Laat ‘n mens wonder of hierdie Suid-Afrikaanse musieksensasie, wat reeds heelwat internasionale erkenning geniet ook deur die muse besoek word en of sy dalk self die muse is.

Nianell se doelwit is om soveel as moontlik mense te bereik met die boodskap dat liefde die wêreld kan verander en dat elkeen ‘n verskil kan maak deur uit te reik na ander met liefde en positiewe energie. Haar musiek is inspirerend en bind mense saam tot die besef dat ons almal deel vorm van ‘n groot geheel waarin niemand beter is as ‘n ander nie, net anders.

Hierdie sangeres met die engelstem, sien die lewe as ‘n geskenk en lewe haar leuse om terug te staan en net te wees voluit. Luister jy na Angel tongue, haar eie musiektaal, verstaan jy hoekom woorde oorbodig raak, in die besef dat elke siel die melodie sal interpreteer volgens sy eie behoefte.

Nianell
Nianell

Nianell se musiek gee jou vlerke om vir ‘n tydjie saam met die engele te sweef en dan so geïnspireerd terug te kom in die wete dat jy deel is van die lewensdoel om diè wêreld ‘n beter plek te maak vir almal wat daarin woon.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar