Janie Bay se nuwe album is ‘n samevloeisel van liedjies wat geskryf is tussen 2019 en vroeg-2021. Met persoonlike temas soos familie, die liefde, passie, verlies en aanmoediging as hoeksteen, is dit ‘n smeltkroes van uiteenlopende musikale teksture wat wye draaie gooi tussen lieflike ballades en ligte pop-musiek, asook ‘n goeie dosis elektroniese adrenalien.

Die sewe snitte, hoewel dit oënskynlik heelwat van mekaar verskil, vorm ‘n prismatiese matriks waarin Bay mildelik tussen vêrreikende klanke en emosies beweeg. Treffers op die album sluit onder andere die radio-gunsteling “Ek Glo Nog In Jou” met Danie Reënwolf in, sowel as die nuwe enkelsnit “My Lief” met Majozi en Early B, asook ‘n lieflike weergawe van die gewilde Fokofpolisiekar-liedjie “Tevrede”.

Bay sê dat sy dit geniet om liedjies te skryf oor die dinamika van Liefde. Sy verduidelik dat die boodskap van die huidige enkelsnit “My Lief” eerlik en eenvoudig is: “Verhoudings is nie perfek nie. Soms raak dinge gejaagd of deurmekaar, maar dan moet mens onthou dat pasmaats deur middel van ware toewyding deur dik en dun saam kan staan.”

Die liedjie “Kalmeer” gaan oor die onvoorspelbare wêreld waarin ons tans leef. Bay vertel: “Dinge beweeg vreeslik vinnig deesdae en dit voel asof daar tans so baie onverwagte dinge oor ons almal se pad kom. Ons het almal bietjie kalmer waters nodig.”

Ek Glo Nog in Jou” wat Bay saam met Danie Reënwolf in 2020 opgeneem het, het onlangs die gesogte nommer 1 posisie op Jacaranda FM se internasionale CTM trefferlys gehaal, en die video van die liedjie het tot op datum reeds meer as ‘n halfmiljoen klieks op YouTube gehad.

Janie Bay het in 2017 as SAMA-genomineerde kunstenaar en internasionale pryswenner aangesluit by Warner Music South Africa. Haar musiek is al meer as 6 miljoen keer gestroom en volgens RadioMonitor.com het haar Afrikaanse enkelsnitte die afgelope twee jaar meer as 90 miljoen luister-trefslae gehaal.

Bay vertel dat sy baie opgewonde is om haar nuwe album vry te stel. “Ek het baie nader gevoel aan my luisteraars en medekunstenaars terwyl ek hierdie album vervaardig het. Die liedjies is persoonlik, maar dis ook ‘n uitdrukking van alles waardeur ons as mensdom tans gaan, en ek dink almal wat daarna luister sal daarby aanklank vind.”

Janie Bay

Prisma is nou beskikbaar op alle gewilde digitale platforms: https://WarnerMusicSA.lnk.to/Prisma

Snitte op die album:

1. My Lief (saam met Majozi & Early B)

2. Babylon

3. Kalmeer

4. Tevrede? (Fokofpolisiekar eie-weergawe)

5. Ek Glo Nog In Jou (saam met Danie Reënwolf)

6. Lewens 7. Sweef

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: Kalmeer – Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply