Millennium, die Afrikaanse rockgroep wat reeds ‘n naam vir hulself gemaak het met rou
energie en eerlike lirieke, is terug met hul jongste enkelsnit: “Rock & Roll My Kind” — ’n
huldeblyk aan die tydlose krag van rock & roll en ‘n liefdesbrief aan die genre wat hulle
gevorm het. Die lied, wat onlangs amptelik met ’n musiekvideo uitgereik word,
bring oud en nuut bymekaar met ’n vurige, humoristiese en nostalgiese klank.
Volgens die band is “Rock & Roll My Kind” geïnspireer deur ’n begeerte om die storie
van rock & roll te vertel aan mense wat dalk nog nie die genre ten volle ken of verstaan
nie. Dit is ’n uitnodiging aan die luisteraar: “Come-on, baby come-on,” roep die lirieke
uit — ‘n mantra vir almal wat die remme wil losmaak.
“Die passie van die lied het ontstaan uit ons liefde vir bands soos Eagles en AC/DC,” sê
Hendré, een van die hoof skrywers. “Ons het iets gesoek wat regtig ons liefde vir rock
kan wys, iets wat mense laat voel soos wat ons voel.”
Millennium beskryf die lied se klank as “definitief ’n throwback na die ou dae van
klassieke rock,” met ‘n moderne draai. Die snit begin met ’n spontane “haha haha” — ’n
element wat nie vooraf beplan was nie. “Hendré het sommer gelag toe ons begin werk
het aan die lied, en ons het besluit om dit in te hou. Dit het ’n lewe van sy eie begin kry,”
lag die band.
Die musiek self is ’n stewige mengsel van growwe kitare, energieke tromme en ‘n refrein
wat soos ‘n kampvuurkoor in die Karoo voel. Die reël “Van die Karoo tot by die kus”
vang die gevoel van ’n nasie seun tot seun vas – rock & roll as ‘n universele taal wat
grensloos is.
Die lirieke is geskryf deur Morné en Hendré Baard, met Hendré aan die pen en Morné
aan die komposisie. Altesaam het dit omtrent drie maande geneem om die lied te
voltooi — nie sonder uitdagings nie. “Die lirieke is altyd die moeilikste deel, maar
gelukkig het ons vir Hennas op die boeke,” vertel hulle met ’n knipoog.
Die musiekvideo bring visueel hul nostalgiese estetika na vore. Die band mik vir ’n “ou styl” wat hul eie moderne klank aanvul. Hulle wil wys dat rock & roll nie net ’n genre is nie — dit is ‘n lewenstyl.

Die reaksie van aanhangers tot dusvêr? Oorweldigend positief. “Hulle love die rock &
roll deel van ons klank,” sê die band. “Dis iets anders as die gewone Afrikaanse musiek,
en mense waardeer dit.”
“Rock & Roll My Kind” sal deel vorm van hul volgende album, wat belowe om die rigting
van die band se klank in die toekoms verder te ontwikkel. Intussen beplan Millennium
om landwyd te toer. “Ons het al klaar baie shows regoor Suid-Afrika bespreek,” sê hulle
opgewonde. “Ons sien uit om almal te sien wat saam met ons gaan uit ROCK!”


Koor:
As die son gaan sak en kitare begin te sing
Dit is harde volume wat geluk na ons toe bring.
Dis Rock & Roll My Kind.

Millennium is hier om te rock — oud, jonk, Karoo of kus. Hierdie is nie net ’n lied nie,
dit is ’n beweging. En jy’s uitgenooi.

Millenium
Millenium

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply