Amandala se derde album uitreiking, Stronger, is in beide Suid -Afrika en VSA opgeneem. Die opnames het by Earwig Studio in Seattle begin, en van die liedjies is daarna ook by Sunset Recording Studios in Stellenbosch, tydens `n familie-besoek in SA opgeneem. Ed Brooks van Resonant Mastering (Death Cab for Cutie, Fleet Foxes, Courtney Marie Andrews) het vir die finale vermenging gesorg.

Amandala (Amanda Lamprecht) sê dat die 7-snit album tematies oor konneksie en refleksie gaan. Die liedjies op hierdie album het almal ’n gevoel van die eienskappe van water. Ek hou daarvan dat water kragtig kan bruis, maar tog ook stil kan wees. Dit word hard as dit gevries is, of mistig as dit in stoom verander. Dit neem die vorm aan van dit waarin dit beweeg of gehou word. Dit is hoe ek my musiek aan ander wil oordra: Vloeibaar, lig en tog ook standvastig.”

Amandala het oor die afgelope paar maande musiekvideo’s vir drie van die lieflike liedjies op Stronger uitgereik. “Dis vir my belangrik om ’n visuele prentjie van my musiek aan te bied,” verduidelik sy. “In die huidige Covid19 era is daar baie ruimte om mee te speel as ’n kunstenaar. Beperkings lei to innoverende denke. Dis vir my asof mense meer ontvanklik is, dalk omdat hulle meer by die huis is, so daar is ’n bietjie meer tyd om aandag te gee aan kuns en musiek. Ek wil graag mooi dinge vir mense wys met inspirerende musiek en ryke verbeelding. Dis so eenvoudig soos dit.”

Die eerste twee videos wat die lig gesien het, “Let`s not leave this life broken” en “Flow”, is gemaak deur die talentvolle Angel Colmenares, ’n filmmaker wat in Kuba gebore is en in Mexico City grootgeword het.  Colmenares vertel dat hy tydens sy kinderjare by die fliekteater naby hulle huis ingeglip het om die films van onder andere Fellini, Bunuel en Kubrick te kon sien. Hy sê: “Ek was altyd gefassineerd met hoe hulle stories in film vertel het: veelsydig, met verskeie perspektiewe en dieptes. Dit het my geïnspireer. Ek wou eksperimenteer met Amandala se videos. ’n Beeld is vir my nooit staties nie. Daar is soveel verskillende maniere om een toneel te kan doen. As ek nou na die videos, sien ek steeds verskillende lae en nog meer moontlikhede.”

Die video van die enkelsnit “Nothing” (Cape Town Version) is ’n samestelling van beeldmateriaal wat Amandala oor die afgelope paar jaar geneem het. Hierdie liedjie en meer snitte vanaf die album kan tans op verskeie radiostasies in VSA gehoor word, insluitende WGSU-fm in New York, asook op  prominente radio stasies in Seattle, Phoenix, Cleveland en Springfield.

Amandala sê dat dit vir haar opwindend is om in ’n stad met ’n besige musiek-kultuur te woon: “Seattle bied wonderlike geleenthede vir musikante. Maar ek is ook steeds trots Suid-Afrikaans en wil graag my musiek met musiekliefhebbers terug in SA deel. Luister en gesels met my op sosiale media, dit sal wonderlik wees om van julle te hoor!”

Lewer kommentaar

Leave a Reply