Op 29 April snoer die supergroep Zasha!, bestaande uit voormalige lede van die Johnny Clegg-orkes, kragte saam met superster Loyiso Bala en vriende om Under African Skies aan te bied – ’n skouspelagtige musiekopvoering saamgestel uit gewilde Suid-Afrikaanse treffers, opgevoer in die Kunstekaap Operahuis tydens die Suidoosterfees.

Vir meer as 20 jaar het hierdie groep, met lede Madisa Dlanga (stem), Andy Innes (kitaar), Barry van Zyl (tromme) en Dan Shout (saksofoon en klawers), die wêreld plat getoer saam met die SA musiek-ikoon Johnny Clegg. In hierdie indrukwekkende aanbieding sluit die talentvolle sangers Loyiso Bala, Nomfundo Xaluva en Monde Msutwana by hulle aan om van die mees energieke en opkikkerende treffers van hul loopbane uit te voer. Die groep sal ook, in die tipiese styl van die Clegg-orkes, ondersteun word deur die Zulu Mzansi-dansers.

Die groep voer eg Suid-Afrikaanse treffers deur bekende plaaslike kunstenaars uit, en vermaak gehore met ’n uitstekende opvoering, gekweek uit jare van saamwerk en toer.

Groeplede is opgewonde oor die Suidoosterfees. Loyiso Bala sê hy is gretig om sy verskyning op die verhoog te maak saam met die ander talentvolle musikante: “Ons gaan ’n reeks Suid-Afrikaanse ‘classics’ aanbied wat die klankbaan van ons lewens verteenwoordig.” Loyiso is bekend as veelbekroonde sanger en lid van die gewilde groepe, TKZee en die Bala Brothers.

Die orkeslede het oor die jare gehore vermaak in van die wêreld se mees gesogte lokale, insluitende uitverkoopte vertonings in die Royal Albert Hall in Londen, Zenith en Grand Rex in Parys, die Universal Amfiteater in Los Angeles, Central Park in New York, die Montreal Jazzfees en Piazza San Giovanni in Rome. Hulle het ook wêreldbekende kunstenaars op die verhoog ondersteun, soos Jackson Brown, Carlos Santana en Peter Gabriel.

Andy Innes, orkesleier en kitaarspeler, verduidelik dat lede kontak behou het ná die jare saam met Johnny Clegg, en het sedertdien ook saam opgetree. “Ons het oor die jare goeie vriende geword, sowel as kollegas. Wanneer ook al ons die geleentheid kry om saam te werk, geniet ons dit baie. Ons het gevolglik besluit om daardie kameraderie en professionele verhouding in ’n nuwe formaat verder te voer.”

Innes sê dat die laaste vertoning waar hulle saam gespeel het ’n universiteitsgeleentheid was. “Loyiso, Barry, Nomfundo en ek het saam ons meestersgrade by Henley-besigheidskool voltooi en verlede jaar het ons ’n paar liedjies by ’n alumni-geleentheid saam met Monde en die orkes gespeel. Ons het toe besef watter wonderlike energie daar tussen ons op die verhoog is. Loyiso is ’n uitmuntende kunstenaar, so ook Nomfundo en Monde. Dit het net sin gemaak dat ons die ensemble weer saam op die verhoog kry, en die Suidoosterfees het die perfekte geleentheid gebied.”

Dit sal die groep se eerste Kaapse optrede wees sedert hul vertoning by Grand West in 2017. “Die laaste keer toe ons gespeel het, was die gehore gaande. Ons is veral opgewonde omdat ’n gewilde Kaapse kunstenaar soos Shaun Johannes as baskitaarspeler nou by ons gaan aansluit.”

Die groep spog ook met die legendariese Savuka-sangeres, Mandisa Dlanga, wat tydens haar glorieryke loopbaan met kunstenaars soos Simply Red, Paul Simon, Jennifer Rush, Miriam Makeba, Hugh Masekela en Lucky Dube gewerk het.

Staatmaker-tromspeler Barry van Zyl glo dat, as die vertoning enigsins soortgelyk is aan hul onlangse optredes in Johannesburg, “die energie aan die brand” gaan wees.

Opkomende ster Monde Msutwana dink dat 29 April se optrede een gaan wees om te onthou. “Ons gaan gehore betower met ikoniese liedjies deur legendariese Suid-Afrikaanse kunstenaars. Moenie my en my vriende by Artscape misloop nie – jy gaan tot in jou kleintoontjie vermaak word!”

Under African Skies

29 APRIL 20:00

Kunstekaap Operahuis

SUIDOOSTERFEES 2023
Kaartjiepryse: R140 / R100

Tydsduur: 75 min Bespreek by Computicket

Lewer kommentaar

Leave a Reply